JOB 32

32
Elihu reageer op Job se vriende
1Job se drie vriende het geweier om verder met hom te argumenteer omdat hy daarop aangedring het dat hy onskuldig is.
2Barakel se seun Elihu, ’n Bussiet uit die familie van Ram, het hom vir Job vererg. Hy was woedend omdat Job geweier het om te erken dat hy enige sonde gedoen het en dat God reg opgetree het om hom te straf. 3Maar hy was ook kwaad vir Job se drie vriende omdat hulle Job nie kon antwoord nie en aantoon dat hy skuldig was nie. 4Elihu het gewag voor hy praat omdat die ander mans ouer as hy was. 5Maar toe hy sien dat hulle drie niks verder het om te sê nie, was hy woedend.
6Elihu seun van Barakel die
Bussiet het gesê:
“Ek is nog jonk,
en julle is al oud.
Daarom was ek bang.
Ek wou nie waag
om vir julle te sê
wat ek dink nie.
7Ek het gedink:
Laat mense wat ouer is, praat,
want wysheid kom met jare.
8Dit is die gees in die mens
wat die mens insig gee,
die asem wat van die Almagtige
kom.
9Maar soms is bejaardes
nie wys nie.
Soms het bejaardes
nie begrip
vir regverdigheid nie.
10“Luister daarom
na my mening.
Ek sal julle sê wat ek dink.
11Ek het lank gewag.
Ek het versigtig
na julle argumente geluister.
Ek het gehoor
hoe julle na woorde soek.
12Ek het met aandag geluister,
maar nie een van julle
kon Job se argumente
weerlê of hom antwoord nie.
13Moenie sê:
‘Ons het wysheid gevind.
Net God kan hom oortuig,
nie ’n mens nie.’
14As Job met my geredeneer het,
sou ek nie dieselfde
argumente as julle
gebruik het nie!
15“Julle is verslae.
Julle het niks meer te sê nie, woorde
ontbreek julle.
16Moet ek aanhou wag,
noudat julle stil geword het?
Moet ek ook stilbly
omdat julle niks het om te sê nie?
17Nee, ek sal sê wat ek dink.
Ek sal sekerlik
my mening gee.
18Ek is tot barstens toe
vol woorde
en my gees dryf my
om te praat.
19Ek is soos gistende wyn
in ’n nuwe wynsak.
My woorde is gereed
om uit te bars!
20Ek moet praat
om verligting te kry.
Daarom, luister na wat ek sê
as ek antwoord.
21Ek sal niemand voortrek nie,
en ek sal niemand vlei nie.
22As ek dit sou probeer doen,
sou my Maker
’n einde aan my maak.”

Tans Gekies:

JOB 32: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan