“As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie, en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag, sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie! “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf. Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons. Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie. “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe. Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is. “As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen My voortsit, sal Ek vyandig word teenoor julle. Ek sal julle persoonlik tref met nog sewe rampe vir julle sonde. Ek sal leërs teen julle uitstuur om hierdie verbondsdreigemente uit te voer. As julle na julle stede toe vlug, sal Ek ’n plaag daar laat uitbreek om julle te vernietig en julle vyande sal julle oorwin. Ek sal julle kosvoorrade so uitdun dat tien vroue net genoeg het vir een baksel. Julle kos sal volgens gewig gerantsoeneer word. Al is daar kos om te eet, sal dit nie genoeg wees om julle te versadig nie. “As julle ná al hierdie dinge nog steeds weier om te luister en vyandig bly teen My, sal my vyandigheid teenoor julle nog erger word. Ek sal julle sewevoudig straf vir julle sondes. Julle sal die vleis van julle eie seuns en dogters eet. Ek sal julle heidense heiligdomme vernietig en julle wierookaltare afbreek. Ek sal julle lyke laat ophoop langs julle lewelose afgode. Ek sal julle verafsku. Ek sal julle stede verlate maak en julle aanbiddingsplekke verwoes. Julle offers sal vir My glad nie aangenaam wees nie. Ek sal self julle land so verwoes dat die vyand wat dit in besit neem geskok sal staan oor die verwoesting daarvan. Ek sal julle verstrooi onder die nasies en julle met my eie wapens aanval. Julle land sal verlate wees en julle stede sal blote ruïnes wees. Wanneer die land so verlate lê gedurende die jare van julle ballingskap in die land van julle vyandskap, sal dit sy verlore Sabbatsjare inhaal. Dan sal die land uiteindelik kan rus en sy Sabbatte geniet. Wanneer die land in puin lê, sal dit die rus neem wat julle dit nooit elke sewe jaar gegee het toe julle nog daar gewoon het nie. “Vir dié van julle wat oorleef, sal Ek so bang maak in die land van julle vyande dat julle in voortdurende vrees sal lewe. Selfs die geluid van ’n blaar in die wind sal julle op die vlug laat slaan. Julle sal hardloop asof ’n soldaat agter julle aan is met ’n swaard en julle sal val al agtervolg niemand julle nie. Selfs al is daar niemand wat julle jaag nie, sal julle oor mekaar val terwyl julle vlug, asof julle in ’n oorlog wegvlug van julle vyand. Julle sal geen krag hê teen julle vyande nie. Julle sal tussen vreemde nasies tot sterwe kom en die land van julle vyande sal julle vernietig. Dié wat oorbly, sal in die land van julle vyande wegkwyn as gevolg van hulle sonde en die sonde van hulle voorouers. “Maar my volk sal hulle sondes en die sondes van hulle voorouers bely. Hulle het My verraai en het my vyand geword. Daarom het Ek ook hulle vyand geword en hulle in die land van hulle vyande gebring. Uiteindelik sal hulle ongehoorsame harte nederig word en sal hulle betaal vir hulle sondes. Dan sal Ek my verbond met Jakob, Isak en Abraham onthou. Ek sal ook die land onthou. Die land moet egter eers sy jare van Sabbatsrus geniet soos wat dit nou verlate lê. Die volk sal hulle volle straf vir hulle sondes moet kry. Hulle het immers my reëls verwerp en my regulasies geminag. “Maar ten spyte van al hierdie dinge sal Ek hulle nie heeltemal verwerp of verag terwyl hulle in ballingskap in die land van hulle vyande is nie. Ek sal my verbond met hulle nie tot niet maak deur hulle uit te wis nie. Ek, die HERE, is hulle God. Ek sal die verbond met hulle voorouers wat Ek uit Egipte gebring het ten aanskoue van al die nasies om hulle God te wees in herinnering roep. Ek is die HERE. “Dit is die voorskrifte, die reëls en regulasies wat die HERE aan die Israeliete deur Moses op Sinaiberg gegee het.”
Lees LEVITIKUS 26
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: LEVITIKUS 26:14-46
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's