LUKAS 1:1-25

LUKAS 1:1-25 NLV

Hooggeagte Teofilus: Baie mense het probeer om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het. Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ’n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf. Dit is om u te verseker van die betroubaarheid van alles wat u geleer is. Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.” Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring! En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.” Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly. Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe. Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan. “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 1:1-25