Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus: “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’ Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf. Laastens het ook die vrou gesterf. Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.” Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.” Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.
Lees LUKAS 20
Luister na LUKAS 20
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: LUKAS 20:27-40
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's