LUKAS 20:27-40

LUKAS 20:27-40 Bybel vir almal (ABA)

'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se kinders wees.’ Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, en ná hom het die derde broer met haar getrou, en so het al sewe broers met die vrou getrou. Hulle het almal gesterf, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal hierdie vrou wees wanneer al die mense wat gesterf het, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “In hierdie lewe trou mense met mekaar. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.” Party van die skrifgeleerdes het vir Jesus gesê: “Meneer, jy het goed geantwoord.” Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.

LUKAS 20:27-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.

LUKAS 20:27-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het sommige van die Sadduseërs na Hom gekom wat ontken dat daar enige opstanding is; en hulle het hom gevra: Moses het gesê: Meester, Moses het aan ons geskryf: As iemand se broer sterf met 'n vrou, en hy sterf sonder kinders, moet sy broer sy vrou neem en vir sy broer nageslag verwek. Daar was dus sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en sonder kinders gesterf. En die tweede het haar as vrou geneem, en hy het kinderloos gesterf. En die derde het haar geneem; en net so ook die sewe, en hulle het geen kinders nagelaat nie en gesterf. Laastens het die vrou ook gesterf. Daarom, wie se vrou van hulle is sy in die opstanding? want sewe het haar as vrou gehad. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die kinders van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee. Maar hulle wat waardig geag sal word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie; Hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is gelyk aan die engele; en is die kinders van God, synde die kinders van die opstanding. Noudat die dooies opgewek is, het selfs Moses dit by die bos laat sien toe hy die Here die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob noem. Want Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal lewe vir Hom. Toe antwoord sommige van die skrifgeleerdes en sê: Meester, jy het goed gesê. En daarna het hulle Hom glad nie gedurf om iets te vra nie.

LUKAS 20:27-40 Die Boodskap (DB)

Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.” ’n Paar van die skrifkenners wat ook na Jesus geluister het, was baie beïndruk met wat Hy gesê het: “Mooi so, Leermeester. U het goed geantwoord. Kyk, daardie klomp Sadduseërs is skoon stil.”

LUKAS 20:27-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus: “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’ Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf. Laastens het ook die vrou gesterf. Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.” Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.” Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.