Hierna het Jesus vir die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan boere verhuur het. Daarna het hy vir ’n lang tyd weggegaan. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag. Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook aangerand, hom beledig en met leë hande teruggejaag. Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat staan my nou te doen? Ek sal my lieflingseun stuur. Hopelik sal hulle hom met respek behandel.’ “Toe die boere hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê: ‘Hierdie man is die erfgenaam. Laat ons hom doodmaak sodat die erfenis ons s’n kan wees.’ Hulle het hom toe uit die wingerd gejaag en vermoor. “Wat moet die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal opdaag en daardie boere doodmaak en die wingerd aan ander mense gee.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit mag nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat is die betekenis van hierdie Skrifwoord dan? ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, het die hoekklip van die gebou geword.’ “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal vergruis word.” Die skrifkenners en die priesterhoofde wou Hom daar en dan arresteer, maar hulle was bang vir die volk. Hulle het in elk geval besef dat hierdie gelykenis teen hulle gemik was. Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop. Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?” Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle: “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly.
Lees LUKAS 20
Luister na LUKAS 20
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: LUKAS 20:9-26
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's