In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”
Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie? Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was. Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie? Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle. As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.”
Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan. Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.)
Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.” Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een. Daarop het die Fariseërs uitgegaan en gaan beplan hoe hulle Jesus uit die weg sou ruim.
Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak. Hy het hulle ernstig verbied om oral uit te basuin wie Hy is. So het die uitspraak van die profeet in vervulling gegaan:
“Hier is my Dienskneg
wat Ek uitgekies het.
Hom het Ek lief.
Hy maak my hart baie bly.
Ek sal my Gees op Hom laat rus
en Hy sal my besluit
aan die nasies bekendmaak.
Hy sal nie met mense stry
of ’n groot lawaai maak nie.
Hy sal nie sy stem
in die openbaar verhef nie.
Hy sal dié wat reeds geknak is,
nie nog verder verbrysel nie
en die vonkie hoop
wat nog oorgebly het,
sal Hy nie uitblus nie,
totdat Hy my besluit laat seëvier.
Ja, op Hom sal die nasies
hulle hoop vestig.”
Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n bose gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat. Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?”
Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat hy bose geeste kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.”
Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie. As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly? En as Ek met die krag van Beëlsebul die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees.
“Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die bose geeste uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is. Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.
“Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.
“Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.