MATTEUS 17:14-20
MATTEUS 17:14-20 NLV
Toe hulle by die skare aan die voet van die berg kom, nader iemand vir Jesus en val voor Hom neer. Hy sê: “Here, ontferm U oor my seun! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water. Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.” Jesus se reaksie was: “O julle ongelowige en ontaarde mense! Hoe lank sal Ek dit nog by julle uithou? Bring die seun hier.” Daarop het Jesus die bose gees in die seun skerp aangespreek en dit het hom verlaat. Onmiddellik was die kind gesond. Agterna het die dissipels Jesus privaat gevra: “Waarom kon ons nie die bose gees uitdryf nie?” “Julle geloof was nie sterk genoeg nie,” was Jesus se antwoord. “Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

