Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus. Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word. Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai. Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan. Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit. Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat. Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’ Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.” Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.” Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.
Lees MATTEUS 27
Luister na MATTEUS 27
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: MATTEUS 27:57-66
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's