Matteus 27:57-66

Matteus 27:57-66 AFR20

Toe dit laat geword het, het 'n ryk man van Arimatea, met die naam Josef, daar aangekom. Ook hy was 'n dissipel van Jesus. Dié man het •Pilatus genader en die liggaam van Jesus gevra. Toe het Pilatus beveel dat dit gegee word. Josef het die liggaam geneem, dit toegedraai in 'n skoon linnedoek en neergelê in die nuwe graf wat hy vir homself in die rots laat uitkap het. Hy het toe 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. Maria Magdalena was daar, ook die ander Maria, en hulle het teenoor die graf bly sit. Die volgende dag – dit is die dag ná Voorbereidingsdag – het die leierpriesters en die •Fariseërs by •Pilatus byeengekom en gesê: “Meneer, ons het onthou dat toe hy nog geleef het, daardie bedrieër gesê het, ‘Ná drie dae sal Ek weer opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot op die derde dag beveilig word, sodat sy dissipels hom nie gaan steel en vir die volk sê, ‘Hy is opgewek uit die dood!’ nie. Die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. ” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle kry 'n wag van soldate. Gaan beveilig die graf soos julle goeddink.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas.