Die volgende name was in die geseëlde dokument: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja.
Verder ook die priesters Sedekia, Seraja, Asarja, Jeremia, Pasgur, Amarja, Malkija, Gattus, Sebanja, Malluk, Garim, Meremot, Obadja, Daniël, Ginneton, Baruk, Mesullam, Abia, Mijamin, Maäsja, Bilga en Semaja.
Die Leviete was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep en Kadmiël, met hulle ampsgenote, Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan, Miga, Regob, Gasabja, Sakkur, Serebja, Sebanja, Hodija, Bani en Beninu.
Die leiers van die volk was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani, Bunni, Asgad, Bebai, Adonia, Bigwai, Adin, Ater, Hiskia, Assur, Hodija, Gasum, Besai, Garif, Anatot, Nebai, Magpias, Mesullam, Gesir, Mesesabel, Sadok, Jaddua, Pelatja, Ganan, Anaja, Hosea, Gananja, Gassub, Loges, Pilga, Sobek, Regum, Gasabna, Maäseja, Agija, Ganan, Anan, Malluk, Garim en Baäna.
Die res van die volk wie se name op die geseëlde dokument was, was die priesters, Leviete, poortwagte, sangers en die tempelwerkers. Verder ook al die ander mense wat hulle van die heidenvolke afgeskei het om die wet van God te gehoorsaam. Hierdie groep wat bestaan het uit die vroue en seuns en dogters wat reeds kon verstaan waaroor dit gaan, het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n plegtige belofte afgelê om te leef volgens die wet van God wat Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee het. Hulle het ook beloof om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die HERE ons God en aan sy reëls en voorskrifte.
Hulle het onderneem: “Ons sal nie ons dogters met die heidense mense van die land laat trou nie. Ons sal ook nie ons seuns toelaat om met hulle dogters te trou nie. Verder, as die mense van die land handelsware of koring bring om op die Sabbat of op ’n dag wat aan die Here gewy is, te verkoop, sal ons weier om dit te koop. Ons sal ook elke sewende jaar nie die grond bewerk nie en alle skuld kanselleer.
“Ons onderneem ook om jaarliks die belasting van vier gram goud vir die onderhoud van ons God se tempel te betaal. Dit sal voorsiening maak vir die offerbrood, die gereelde graanoffers en brandoffers, offers op die Sabbat, Nuwemaanfeeste en die jaarlikse feeste. Verder ook vir spesiale gewyde dae, offers om Israel se sondes te versoen en vir ander werk by ons God se tempel.
“Daar was ook hout nodig wat volgens die wet op die altaar by die tempel van die HERE ons God moes brand. Ons het lootjies getrek om te besluit wanneer die families van die priesters, die Leviete en die gewone mense volgens vasgestelde beurte die hout moes bring.
“Ons sal ook elke jaar die eerste graan wat ons oes of die eerste vrugte van al die bome na die HERE se tempel toe bring. Soos die wet vereis, sal ons ons oudste seuns en die eerste kalf en lammetjie na die tempel van God bring. Ons sal hulle bring na die priesters wat by die tempel van ons God diens doen. Ons sal ons beste meel en koring, ons beste vrugte, nuwe wyn en olyfolie bring. Ons sal dit opgaar in die stoorkamers van ons God se tempel. Ons sal ook vir die Leviete ’n tiende bring van alles wat ons land oplewer. Hulle versamel mos die tiendes in al die dorpies waar ons werk. Daar sal ’n priester uit Aäron se familie by die Leviete wees as hulle die tiendes ontvang. Die Leviete sal ’n tiende van alle tiendes wat hulle insamel na die tempel toe bring en in die stoorkamers wegbêre. Die mense van Israel en die Leviete moet al hierdie graanoffers, die nuwe wyn en die olyfolie na die stoorkamers by die tempel bring. Dit is waar hulle die tempelgereedskap bêre, en waar die priesters wat diens doen asook die tempelwagte en sangers bly.
“Ons sal die tempel van ons God nie verwaarloos nie.”