NEHEMIA 3
3
Die mure van Jerusalem word herbou
1Die hoëpriester Eljasib en van die ander priesters het by die Skaappoort met die bouwerk begin. Nadat hulle die deure gehang het, het hulle dit aan die Here toegewy. Hulle het ook die gedeeltes van die muur tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring toegewy. 2Mense uit Jerigo het die volgende deel gebou en langs húlle het Sakkur seun van Imri gebou.
3Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. 4Meremot, seun van Urija en kleinseun van Kos, het die volgende deel van die muur herstel. Langs hom het Mesullam, seun van Berekja en kleinseun van Mesesabel, gewerk, en langs hóm Sadok seun van Baäna. 5Langs hulle het die mense van Tekoa gewerk, maar hulle leiers het geweier om vir hulle Here te werk.
6Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het op hulle beurt weer die Ou Stadspoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. 7Langs hulle het Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot herstelwerk gedoen. So ook die mense van Gibeon en Mispa waar die hoofkwartier van die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier gesetel was. 8Ussiël seun van Garhaja, ’n goudsmid, het aan die volgende deel van die muur gewerk, gevolg deur Gananja, ’n parfuumvervaardiger. Hulle het ’n deel van die muur om Jerusalem gebou tot so ver as die gedeelte bekend as die Breë Muur.
9Die volgende deel van die muur is deur Refaja seun van Gur herstel. Hy was die hoof van die helfte van die Jerusalemdistrik. 10Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte van die muur wat reg langs sy huis was, reggemaak. Langs hom het Gattus seun van Gasabneja gewerk. 11Op hulle beurt het Malkija seun van Garim en ook Gassub seun van Pagat-Moab langs hulle gewerk. Hulle het die Bakoondtoring asook ’n verdere gedeelte van die muur herstel. 12Sallum seun van Loges het saam met sy dogters die volgende gedeelte van die muur herstel. Sallum was die hoof van die ander helfte van die Jerusalemdistrik.
13Ganun en die inwoners van Sanoag het die Dalpoort herstel. Hulle het dit herbou, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Hulle het ook die 450 meter lange muur tot by die Mispoort herstel.
14Milkija seun van Rekab het die Mispoort herstel. Hy was die hoof van die Bet-Keremdistrik. Nadat hy die poort herstel het, het hy die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.
15Sallum seun van Kol-Gose was die hoof van die Mispadistrik. Hy het aan die Fonteinpoort gewerk. Hy het dit herbou, die dak opgesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Daarna het hy die muur van die Siloampoel naby die koning se tuin herstel. Hy het die muur herbou tot by die trappe wat van die stad van Dawid af kom. 16Langs hom het Nehemia seun van Asbuk gewerk. Hy was die hoof van die helfte van die Bet-Surdistrik. Hy het aan die muur gewerk tot oorkant die koningsbegraafplaas en tot by die opgaardam en die soldate-kwartiere.
17’n Groep Leviete onder die toesig van Regum seun van Bani was die volgende werkgroep. Langs hulle het Gasabja, die hoof van die helfte van die Keiladistrik, gewerk. Hy het namens sy distrik oor die herstel van die muur toesig gehou. 18Hulle familie was die volgende groep wat gewerk het. Hulle het onder leiding van Binnuï seun van Genadad, hoof van die res van die Keiladistrik, gewerk.
19Hulle is gevolg deur Eser seun van Jesua wat die hoof van die Mispagebied was. Hy het aan ’n gedeelte van die muur wat ’n hoek vorm, gewerk. Dit was reg oorkant die wapenkamer. 20Barug seun van Sabbai het aan die aangrensende deel van die muur gewerk. Die deel van die muur het vanaf die versterkte hoekgedeelte tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib gestrek. 21Meremot seun van Urija, kleinseun van Kos, het verder aan die muur gewerk wat gestrek het vanaf die deur van die huis van Eljasib tot aan die einde van die huis.
22’n Volgende stuk van die muur is deur die priesters van die omgewing herstel. 23Langs hulle het Benjamin, Gassub en Asarja seun van Maäseja, kleinseun van Ananeja gewerk. Hulle het die gedeeltes van die muur reg voor hulle huise herstel. 24Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis tot by die versterkte hoekgedeelte, het Binnuï seun van Genadad reggemaak. 25Palal seun van Usai het die gedeelte van regoor die hoekgedeelte herstel tot by die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Aan die gedeelte van die muur langs hom het Pedaja seun van Paros gewerk, 26asook die tempelslawe wat op die Ofelheuwel gewoon het. Hulle het die gedeelte van die muur tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring herstel. 27Die mense van Tekoa het aan die volgende deel gewerk. Hulle het die stuk van die muur van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herstel.
28Die priesters het die volgende gedeelte van die muur bokant die Perdepoort herstel. Elkeen het aan die gedeelte regoor sy huis gewerk. 29Sadok seun van Immer het die volgende deel wat reg oorkant sy huis was, herstel. Semaja seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort het die stuk van die muur wat gevolg het, reggemaak. 30Langs hulle het Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, aan die muur gewerk. Hulle is gevolg deur Mesullam seun van Berekja wat die deel regoor sy kamer herstel het. 31Malkija, een van die goudsmede, het die volgende stuk van die muur herstel. Hy het gewerk tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek. 32Die ander goudsmede en handelaars het aan die gedeelte van die muur tussen die kamer op die hoek en die Skaappoort herstelwerk gedoen.
Tans Gekies:
NEHEMIA 3: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011