PSALMS 147:1-11

PSALMS 147:1-11 NLV

Prys die HERE! Want dis goed om ons God te prys. Dis ’n vreugde en ’n genot om Hom te prys. Die HERE herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel. Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde. Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam. Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie. Die HERE ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond. Sing ’n danklied aan die HERE; sing lofliedere vir ons God met begeleiding van die harp. Hy oordek die hemel met wolke, Hy verskaf reën vir die aarde en laat gras groei op die berghellings. Hy voed die wilde diere, en die jong kraaie wat skree vir kos. Die krag van ’n oorlogsperd beïndruk Hom nie; met die ratsheid van ’n krygsman neem Hy nie genoeë nie. Die HERE verheug Hom in hulle wat Hom dien, in dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.