My God, my God!
Waarom het U my verlaat?
Waarom bly U so ver
wanneer ek roep om hulp,
so ver wanneer ek tot U sug?
Elke dag roep ek na U, my God,
maar U antwoord nie;
ook elke nag roep ek,
maar daar is geen rus vir my nie.
Tog is U die Heilige
wat woon waar Israel U prys.
Ons voorouers
het op U vertrou,
hulle het U vertrou,
en U het hulle gered.
Tot U het hulle geroep,
en hulle is verlos.
Hulle het op U vertrou,
en was nooit verleë nie.
Maar ek is net ’n wurm,
en nie ’n man nie;
ek word bespot
deur die mensdom,
verag deur almal om my.
Elkeen wat my sien,
spot met my.
Hulle trek vir my gesigte,
skud die kop en sê:
“Vertrou op die HERE;
laat Hý hom dan red!
Laat die HERE hom verlos
as Hy hom dan so liefhet!”
Maar U het my die lewenslig
laat sien,
my as suigeling
op U laat vertrou.
Vanaf geboorte
is ek van U afhanklik.
Vanaf die begin van my lewe
was U my God.
Moenie ver van my af bly nie,
want ellende kom
en daar is geen helper nie.
Soos ’n trop bulle
omsingel my vyande my;
wilde beeste van Basan
het my omring!
Soos brullende leeus
wat uitmekaar wil skeur,
met oopgesperde bekke
storm hulle op my af.
My lewe is uitgestort
soos water, al my bene val uitmekaar.
My hart is soos was
wat in my wegsmelt.
My krag het opgedroog
soos ’n potskerf.
My tong kleef
aan my verhemelte.
U laat my vir dood in die stof lê.
Soos ’n trop honde
sirkel hulle om my;
’n kwaadwillige bende
sak op my toe.
My hande en voete
is vasgemaak.
Ek kan al my bene in my tel.
Met leedvermaak gluur my vyande
my aan.
Hulle verdeel my klere
onder mekaar
en deur die lot te werp
deel hulle my kledingstukke.
HERE,
bly nie ver van my af nie!
U is my sterkte;
help my tog gou!
Red my van die swaard,
red my kosbare lewe
uit die mag van hierdie honde.
Red my uit die bek
van die leeu,
van die horings
van wilde beeste.
U het my gebed verhoor!
Aan my broers
maak ek u Naam bekend.
In die vergadering
verkondig ek u lof.
Prys die HERE,
julle almal wat Hom dien!
Verheerlik Hom,
nakomelinge van Jakob!
Betoon eerbied aan Hom,
nageslag van Israel!
Want die leed
van hulle in nood
ignoreer Hy nie;
vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie.
Hy luister na hulle geroep
om hulp.
Van U af kom my lofsang
in die groot vergadering;
voor hulle wat U dien,
sal ek my geloftes nakom.
Dié in nood
sal eet en versadig word.
Almal wat die HERE dien,
sal Hom loof.
Mag hulle harte bly wees
vir altyd.
Die hele aarde
sal die HERE erken
en na Hom toe terugkeer.
Mense uit elke nasie
sal Hom weer dien.
Want die koningskap
behoort aan die HERE!
Hy heers oor al die nasies.
Laat die rykes van die wêreld
feesvier
en Hom aanbid.
Laat al wat sterfling is,
voor Hom buig;
hulle wat sterflik is
en bestem is vir die graf.
Die nageslag sal Hom dien.
Die komende geslagte
sal van die Here hoor.