PSALMS 22:1-31

PSALMS 22:1-31 NLV

My God, my God! Waarom het U my verlaat? Waarom bly U so ver wanneer ek roep om hulp, so ver wanneer ek tot U sug? Elke dag roep ek na U, my God, maar U antwoord nie; ook elke nag roep ek, maar daar is geen rus vir my nie. Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys. Ons voorouers het op U vertrou, hulle het U vertrou, en U het hulle gered. Tot U het hulle geroep, en hulle is verlos. Hulle het op U vertrou, en was nooit verleë nie. Maar ek is net ’n wurm, en nie ’n man nie; ek word bespot deur die mensdom, verag deur almal om my. Elkeen wat my sien, spot met my. Hulle trek vir my gesigte, skud die kop en sê: “Vertrou op die HERE; laat Hý hom dan red! Laat die HERE hom verlos as Hy hom dan so liefhet!” Maar U het my die lewenslig laat sien, my as suigeling op U laat vertrou. Vanaf geboorte is ek van U afhanklik. Vanaf die begin van my lewe was U my God. Moenie ver van my af bly nie, want ellende kom en daar is geen helper nie. Soos ’n trop bulle omsingel my vyande my; wilde beeste van Basan het my omring! Soos brullende leeus wat uitmekaar wil skeur, met oopgesperde bekke storm hulle op my af. My lewe is uitgestort soos water, al my bene val uitmekaar. My hart is soos was wat in my wegsmelt. My krag het opgedroog soos ’n potskerf. My tong kleef aan my verhemelte. U laat my vir dood in die stof lê. Soos ’n trop honde sirkel hulle om my; ’n kwaadwillige bende sak op my toe. My hande en voete is vasgemaak. Ek kan al my bene in my tel. Met leedvermaak gluur my vyande my aan. Hulle verdeel my klere onder mekaar en deur die lot te werp deel hulle my kledingstukke. HERE, bly nie ver van my af nie! U is my sterkte; help my tog gou! Red my van die swaard, red my kosbare lewe uit die mag van hierdie honde. Red my uit die bek van die leeu, van die horings van wilde beeste. U het my gebed verhoor! Aan my broers maak ek u Naam bekend. In die vergadering verkondig ek u lof. Prys die HERE, julle almal wat Hom dien! Verheerlik Hom, nakomelinge van Jakob! Betoon eerbied aan Hom, nageslag van Israel! Want die leed van hulle in nood ignoreer Hy nie; vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie. Hy luister na hulle geroep om hulp. Van U af kom my lofsang in die groot vergadering; voor hulle wat U dien, sal ek my geloftes nakom. Dié in nood sal eet en versadig word. Almal wat die HERE dien, sal Hom loof. Mag hulle harte bly wees vir altyd. Die hele aarde sal die HERE erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien. Want die koningskap behoort aan die HERE! Hy heers oor al die nasies. Laat die rykes van die wêreld feesvier en Hom aanbid. Laat al wat sterfling is, voor Hom buig; hulle wat sterflik is en bestem is vir die graf. Die nageslag sal Hom dien. Die komende geslagte sal van die Here hoor.