SAGARIA 14:16-21

SAGARIA 14:16-21 NLV

Uiteindelik sal die vyande van Jerusalem wat die plaag oorleef het, elke jaar optrek na Jerusalem toe om die Koning, die HERE, die Almagtige, te aanbid en om die Huttefees te vier. Enige nasie iewers in die wêreld wat weier om na Jerusalem te kom om die Koning, die HERE, die Almagtige, te aanbid, sal nie reën kry nie. As die volk van Egipte weier om die fees by te woon, sal die HERE hulle straf met dieselfde plaag waarmee Hy ander nasies wat geweier het om te kom, tref. Egipte en die ander nasies sal almal gestraf word as hulle nie die Huttefees vier nie. Op daardie dag sal daar selfs op die klokke van die perde se tuie geskryf staan: HEILIG VIR DIE HERE. Die potte in die tempel van die HERE sal net so heilig wees as die bakke wat langs die altaar gebruik word. Elke pot in Jerusalem en Juda sal heilig vir die HERE, die Almagtige, wees. Enigiemand wat kom offer, sal vry wees om enige pot te gebruik waarin hulle offers kan kook. Op daardie dag sal daar nie meer handelaars in die tempel van die HERE, die Almagtige, wees nie.