1 Korintiërs 13:1-13

1 Korintiërs 13:1-13 ABA

Miskien sal ek die tale van mense en van engele kan praat, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan is ek soos 'n klok of soos 'n simbaal wat net raas. Miskien sal ek God se boodskap kan bring, en al die geheime kan ken, en alles kan weet. Miskien sal ek so sterk kan glo dat ek berge kan wegskuif, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan beteken ek niks. Miskien sal ek al my goed kan weggee, en miskien sal ek myself kan gee sodat mense my slaan en seermaak, en sal ek daaroor spog, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan help dit my niks. Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie, hy doen nie lelike dinge nie, hy is nie selfsugtig nie, hy word nie gou kwaad nie, hy onthou nie vir altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie, hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is baie bly wanneer mense die waarheid praat. Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig. Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop. Want ons weet net 'n bietjie, en ons bring net 'n bietjie van God se boodskap. Maar eendag, wanneer alles is soos God dit wil hê, dan sal die dinge wat ons nou ken en het, nie meer nodig wees nie. Toe ek 'n kind was, het ek dinge gesê soos 'n kind dit sê, ek het gedink soos 'n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos 'n kind. Maar toe ek 'n grootmens geword het, het ek die dinge van 'n kind gelos. In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer 'n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet. Daar is net drie dinge wat regtig belangrik is, en dit is: om aan te hou glo, om aan te hou hoop, en om lief te wees vir God en vir ander mense. Maar die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Korintiërs 13:1-13