Hanna het gebid en gesê:
“Ek is vrolik, want die Here
is by my.
Ek is sterk, want die Here
is by my.
Ek lag vir my vyande,
want U het my gered,
en ek is bly.
Daar is nie 'n ander heilige God
soos die Here nie,
net U is God, daar is nie
'n ander God nie.
Daar is nie 'n ander Rots
soos ons God nie.
Julle moenie aanhou spog nie,
julle moenie teen die Here
praat nie,
want die Here weet alles
en Hy toets alles
wat 'n mens doen.
Die pyl en boog
van mense wat oorlog maak,
is stukkend,
maar die mense wat geval het,
staan weer op en hulle is sterk.
Mense wat altyd meer kos
gehad het as wat hulle
kon eet,
moet nou werk om 'n stukkie
kos te kry.
Maar mense wat altyd
honger was,
het nou genoeg om te eet.
'n Vrou wat nie kinders
kon kry nie,
het nou sewe kinders,
en 'n vrou wat baie kinders
gehad het,
het nou niks kinders nie.
Die Here maak dood
en Hy laat mense weer lewe,
Hy laat mense afgaan
na die doderyk
en Hy laat mense opkom
uit die doderyk.
Die Here maak mense arm
en Hy maak mense ryk,
Hy laat mense val
en Hy tel mense op.
Hy laat arm mense opstaan
uit die stof,
Hy tel hulle op uit die ashoop.
Hy laat hulle by die belangrike
mense sit,
Hy gee vir hulle die belangrikste
plek om te sit.
Die pilare van die aarde
behoort aan die Here,
Hy het die aarde op
die pilare gesit.
Die Here lei sy dienaars
op hulle pad,
maar die slegte mense sal in
die donker kom en sterf.
Hulle eie krag sal hulle nie help
om te wen nie.
Die mense wat sê
die Here is verkeerd,
sal sterf.
Die Here laat donderweer
uit die lug oor hulle blits.
Die Here sal al die mense
op die aarde oordeel,
en Hy sal sy koning
wat Hy gesalf het,
sterk maak.”
Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar sy seun Samuel het by die priester Eli gebly om vir die Here te werk.