2 Kronieke 17

17
1Asa se seun Josafat het koning geword ná hom.
Josafat word ryk, en almal respekteer hom
Josafat het seker gemaak dat hy teen Israel sal kan wen as hulle oorlog maak. 2Hy het gesê daar moet soldate bly in elke stad in Juda wat sterk mure het, en hy het gesê daar moet oral in die land manne bly om wag te staan, ook in die stede wat sy pa Asa in die land Efraim gevat het. 3Die Here was by Josafat en Hy het hom geseën, want Josafat het gelewe soos sy voorvader Dawid gelewe het toe hy koning geword het. Josafat het nie die Baäls gedien nie. 4Nee, hy het die God van sy voorvaders gedien en hy het gelewe soos God sê. Josafat het nie gedoen wat die konings van Israel gedoen het nie. 5Die Here het vir Josafat gehelp om 'n sterk koning te wees. Al die mense van Juda het vir hom presente gebring, en hy het baie ryk geword. Almal het hom gerespekteer. 6Hy was trots dat hy kon aanhou lewe soos die Here wil hê. Hy het die offer-plekke en die gewyde pale afgebreek en weggevat uit die land Juda.
Josafat stuur amptenare en Leviete en priesters om vir die mense te leer
7In die derde jaar nadat Josafat koning geword het, het hy amptenare gestuur om vir die mense in die stede van Juda te leer. Die amptenare was Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. 8Saam met hulle was die Leviete Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle. 9Hulle het vir die mense in Juda gaan leer. Hulle het die Wetboek van die Here by hulle gehad en hulle het deur al die stede van Juda gegaan en vir die mense geleer.
Die Filistyne en Arabiere bring presente vir Josafat
10Die Here het al die volke in die lande rondom Juda bang laat word vir koning Josafat, en hulle het nie oorlog gemaak teen Josafat nie. 11Party Filistyne het vir Josafat presente gebring en hulle het belasting betaal met silwer. Die Arabiere het ook vir Josafat skape en bokke gebring, 7 700 skaap-ramme en 7 700 bok-ramme.
Die leërs van Josafat
12Die leër van Josafat het sterker en sterker geword. Josafat het stede gebou wat sterk mure het en ook stede waar hy sy goed kon bêre. 13Hy het baie werk gedoen in die stede van Juda, en in Jerusalem het hy soldate gehou wat goed kon veg. 14Hy het gesê hulle moet sy soldate tel en die soldate wat familie van mekaar was, moes saam veg. Die hoofde van die offisiere van Juda was: die leier Adna met 300 000 manne wat goed kon veg, 15en langs hom was die leier Joganan met 280 000 manne. 16Langs Joganan was Amasja seun van Sikri, wat graag vir die Here wou werk, en saam met hom was daar 200 000 manne wat goed kon veg. 17Van die Benjamin-stam was daar Eljada, 'n man wat goed kon veg, en saam met hom was daar 200 000 manne wat pyl en boë en spiese gehad het, 18en langs hom was Josabad met 180 000 manne wat gereed was om oorlog te maak. 19Hulle almal het vir die koning gewerk, en dan was daar ook nog die manne wat die koning oral in die stede van Juda laat bly het, in stede wat sterk mure het.

Tans Gekies:

2 Kronieke 17: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan