2 Kronieke 27

27
Jotam
(Kyk ook 2 Kon 15:32-38)
1Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jerusa dogter van Sadok. 2Jotam het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy pa Ussia gedoen het, maar hy het nie soos sy pa in die tempel ingegaan nie. Die volk het nog altyd aangehou om slegte dinge te doen. 3Dit is Jotam wat die boonste poort van die tempel gebou het, en hy het baie geboue gebou by die muur van die Ofel. 4Hy het ook die mure van die stede in die Juda-berge sterker gemaak en hy het stede gebou wat sterk mure het en ook torings in die bosse. 5Hy het oorlog gemaak teen die koning van die Ammoniete en hy het gewen. Die Ammoniete moes daardie jaar 100 talente silwer en 10 000 kor koring en 10 000 kor gars vir hom gee, en die volgende jaar en die jaar daarna moes hulle dit ook gee. 6Jotam se leër het sterk geword omdat hy reg gelewe het voor sy God die Here.
Jotam sterf
(Kyk ook 2 Kon 15:38)
7Die ander dinge wat met Jotam gebeur het, al sy oorloë en hoe hy gelewe het, is geskryf in die Boek van die Konings van Israel en Juda. 8Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. 9Jotam het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Agas het koning geword ná hom.

Tans Gekies:

2 Kronieke 27: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan