2 Korintiërs 11:16-33

2 Korintiërs 11:16-33 ABA

Ek het dit al voorheen gesê, maar ek sê dit weer: Julle moenie dink ek is dom nie. Of miskien moet julle dink ek is dom, want dan kan ek ook 'n klein bietjie spog. Ek sal nou iets sê, maar dit kom nie van die Here nie. Ek praat nou soos 'n dom mens wanneer ek 'n bietjie wil spog. Daar is baie mense wat spog soos wêreldse mense, daarom wil ek ook nou spog. Want ek dink julle hou van dom mense, julle wat dink dat julle baie verstandig is. Julle hou daarvan om iemand se slawe te wees, julle hou daarvan wanneer iemand julle geld vat, wanneer iemand met julle doen wat hy wil, wanneer iemand dink hy is wonderlik, wanneer iemand julle beledig. Ek is jammer om dit te sê, maar ons was te swak om dit aan julle te doen. Ek weet ek praat nou soos 'n dom mens, maar as ander mense kan spog, dan kan ek ook spog. Hulle spog dat hulle Hebreërs is. Ek is ook 'n Hebreër. Hulle spog dat hulle Israeliete is. Ek is ook 'n Israeliet. Hulle spog dat hulle die nageslag van Abraham is. Ek is ook van die nageslag van Abraham. Hulle spog dat hulle dienaars van Christus is. En nou praat ek regtig soos 'n dom mens: Ek is 'n beter dienaar van Christus. Ek het baie harder gewerk as hulle, ek was meer in die tronk, mense het my baie meer geslaan as vir hulle, ek was baie maal amper dood. Die Jode het my vyf maal met 'n stok geslaan, elke maal het hulle my 39 houe geslaan. Die Romeine het my drie maal met 'n stok geslaan, mense het my een maal met klippe gegooi om my dood te maak, ek was op drie skepe wat stukkend gebreek het, en ek het een maal 'n hele nag en dag op die see rondgedryf. Ek het baie maal ver gereis. Ek het deur gevaarlike riviere gegaan, en daar was baie ander gevaarlike dinge: Daar was diewe, my eie Jode-mense, heidene, daar was stede waar ek swaargekry het, plekke ver van die stede, die see, en mense wat gesê het hulle is Christene maar hulle was vals. Ek het hard gewerk en swaargekry, ek kon baie maal nie slaap nie, ek was honger en dors, ek het baie maal nie kos gehad nie, ek het koud gekry en ek het nie genoeg klere gehad nie. Daar is nog baie ander dinge wat ek nie genoem het nie. Ek is ook bekommerd oor die werk wat ek elke dag moet doen, ek is bekommerd oor al die gemeentes. As iemand in 'n gemeente swak is, dan is ek saam met hom swak. En as iemand 'n ander persoon sonde laat doen, dan word ek baie kwaad. As ek moet spog, dan sal ek daaroor spog dat ek swak is. God weet dat ek nie lieg nie. Hy is die God en Vader van die Here Jesus. Ons moet God altyd prys. Ek was eendag in Damaskus. Koning Aretas het iemand gekies en aangestel om te regeer oor die stad. Daardie persoon het wagte aangestel en hy het probeer keer sodat ek nie uit die stad kon vlug nie. Hy wou my vang. Maar vriende het my in 'n mandjie deur 'n venster in die stadsmuur laat afsak. En so het ek gevlug, hy kon my nie vang nie.