2 KORINTIËRS 11:16-33

2 KORINTIËRS 11:16-33 Bybel vir almal (ABA)

Ek het dit al voorheen gesê, maar ek sê dit weer: Julle moenie dink ek is dom nie. Of miskien moet julle dink ek is dom, want dan kan ek ook 'n klein bietjie spog. Ek sal nou iets sê, maar dit kom nie van die Here nie. Ek praat nou soos 'n dom mens wanneer ek 'n bietjie wil spog. Daar is baie mense wat spog soos wêreldse mense, daarom wil ek ook nou spog. Want ek dink julle hou van dom mense, julle wat dink dat julle baie verstandig is. Julle hou daarvan om iemand se slawe te wees, julle hou daarvan wanneer iemand julle geld vat, wanneer iemand met julle doen wat hy wil, wanneer iemand dink hy is wonderlik, wanneer iemand julle beledig. Ek is jammer om dit te sê, maar ons was te swak om dit aan julle te doen. Ek weet ek praat nou soos 'n dom mens, maar as ander mense kan spog, dan kan ek ook spog. Hulle spog dat hulle Hebreërs is. Ek is ook 'n Hebreër. Hulle spog dat hulle Israeliete is. Ek is ook 'n Israeliet. Hulle spog dat hulle die nageslag van Abraham is. Ek is ook van die nageslag van Abraham. Hulle spog dat hulle dienaars van Christus is. En nou praat ek regtig soos 'n dom mens: Ek is 'n beter dienaar van Christus. Ek het baie harder gewerk as hulle, ek was meer in die tronk, mense het my baie meer geslaan as vir hulle, ek was baie maal amper dood. Die Jode het my vyf maal met 'n stok geslaan, elke maal het hulle my 39 houe geslaan. Die Romeine het my drie maal met 'n stok geslaan, mense het my een maal met klippe gegooi om my dood te maak, ek was op drie skepe wat stukkend gebreek het, en ek het een maal 'n hele nag en dag op die see rondgedryf. Ek het baie maal ver gereis. Ek het deur gevaarlike riviere gegaan, en daar was baie ander gevaarlike dinge: Daar was diewe, my eie Jode-mense, heidene, daar was stede waar ek swaargekry het, plekke ver van die stede, die see, en mense wat gesê het hulle is Christene maar hulle was vals. Ek het hard gewerk en swaargekry, ek kon baie maal nie slaap nie, ek was honger en dors, ek het baie maal nie kos gehad nie, ek het koud gekry en ek het nie genoeg klere gehad nie. Daar is nog baie ander dinge wat ek nie genoem het nie. Ek is ook bekommerd oor die werk wat ek elke dag moet doen, ek is bekommerd oor al die gemeentes. As iemand in 'n gemeente swak is, dan is ek saam met hom swak. En as iemand 'n ander persoon sonde laat doen, dan word ek baie kwaad. As ek moet spog, dan sal ek daaroor spog dat ek swak is. God weet dat ek nie lieg nie. Hy is die God en Vader van die Here Jesus. Ons moet God altyd prys. Ek was eendag in Damaskus. Koning Aretas het iemand gekies en aangestel om te regeer oor die stad. Daardie persoon het wagte aangestel en hy het probeer keer sodat ek nie uit die stad kon vlug nie. Hy wou my vang. Maar vriende het my in 'n mandjie deur 'n venster in die stadsmuur laat afsak. En so het ek gevlug, hy kon my nie vang nie.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WEER sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as 'n dwaas, sodat ek ook 'n bietjie kan roem. Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem. Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem. Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is! Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan. Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf — ek spreek in dwaasheid — ek durf ook. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook. Is hulle dienaars van Christus? — ek praat in uitsinnigheid — ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, 'n nag en 'n dag het ek op die diepwater deurgebring — dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word 'n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; en ek is in 'n mandjie deur 'n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek herhaal: Niemand moet dink dat ek 'n dwaas is nie. Of anders, beskou my maar as 'n dwaas en laat my ook 'n bietjie grootpraat. Wat ek nou sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie aangeleentheid praat ek werklik soos 'n dwaas, in die oortuiging dat ek grond het om te roem. Aangesien daar baie is wat op suiwer menslike gronde grootpraat, sal ek ook grootpraat. Julle wat so verstandig is, verdra mos geredelik die dwaas. Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap. Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook. Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid! Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang. Maar deur 'n venster in die muur is ek in 'n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek sê weer: Laat niemand my as 'n dwaas beskou nie! Of anders: Aanvaar my dan nou maar as 'n dwaas, dat ek ook 'n bietjie oor iets kan spog. Wat ek nou gaan sê, sê ek nie soos die Here dit sou doen nie, maar soos 'n dwaas, in vertroue op my eie gespog. Aangesien daar baie is wat, volgens menslike standaarde, oor iets spog, sal ek dan ook maar oor iets spog. Want julle verdra mos graag dwase mense, al is julle so verstandig! Want julle verdra dit as iemand van julle slawe maak, as iemand julle uitsuig, as iemand julle misbruik, as iemand hooghartig optree, en julle in die gesig slaan. Ek sê dit tot my skande, dat ons te swak geword het daarvoor. Maar waaroor iemand ook al waag om te spog – ek praat soos 'n dwaas – ek waag dit ook: Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle nakomelinge van Abraham? Ek ook. Is hulle dienaars van •Christus? – nou praat ek sonder verstand – ek nog meer: oorvloediger in harde werk, meer dikwels in die tronk, uitermate geslaan, en dikwels in doodsgevaar. Van die Jode het ek vyf keer veertig houe minus een gekry; drie maal is ek met stokke geslaan; een maal is ek gestenig; drie maal het ek skipbreuk gely; 'n nag en 'n dag lank het ek die diepsee trotseer; dikwels op reis, met gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van die kant van my eie volk, gevare van die kant van die heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, gevare onder vals broers, met harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, honger en dors, dikwels sonder kos, koud en nakend. En afgesien van nog ander ongenoemde dinge, is daar daaglikse druk op my – my kommer oor al die •gemeentes. Wie is swak, en ek is nie ook swak nie? Wie kom tot struikeling, en ek brand nie van ontsteltenis nie? As daar dan gespog moet word, sal ek oor my swakhede spog. God, die Vader van die Here Jesus, wat lofwaardig is tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het koning Aretas se etnarg die stad Damaskus bewaak om my te arresteer. Deur 'n venster in die stadsmuur is ek toe in 'n mandjie laat sak, en het ek aan sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek sê weer: Laat niemand my as 'n dwaas beskou nie; anders, neem my tog aan as 'n dwaas, sodat ek 'n bietjie kan roem. Wat ek spreek, dit spreek ek nie namens die Here nie, maar as 't ware dwaas, in hierdie vertroue van roem. Aangesien baie na die vlees roem, sal Ek ook roem. Want julle ly graag dwase, aangesien julle self wys is. Want julle ly as iemand julle in slawerny bring, as iemand julle opeet, as iemand van julle neem, as iemand homself verhef, as iemand jou in die gesig slaan. Ek praat oor smaad, asof ons swak was. Maar oral waar iemand vrymoedig is, (ek spreek dwaas), is ek ook vrymoedig. Is hulle Hebreërs? so is ek. Is hulle Israeliete? so is ek ook. Is hulle die nageslag van Abraham? ek ook. Is hulle dienaars van Christus? (Ek praat soos 'n dwaas) Ek is meer; in arbeid meer oorvloedig, in strepe bo maat, in tronke meer gereeld, in sterftes dikwels. Van die Jode het ek vyf keer veertig slae ontvang, behalwe een. Drie maal is ek met stokke geslaan, een keer is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, 'n nag en 'n dag was ek in die diepte; Op reise dikwels, in gevare van waters, in gevare van rowers, in gevare deur my landgenote, in gevare deur die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare in die see, in gevare onder valse broers; In moegheid en pyn, dikwels in waaksaamheid, in honger en dors, dikwels in vas, in koue en naaktheid. Behalwe die dinge wat buite is, dit wat daagliks oor my kom, die sorg van al die gemeentes. Wie is swak, en ek is nie swak nie? wie is aanstoot, en ek verbrand nie? As ek eer nodig het, sal ek roem oor die dinge wat my swakhede aangaan. Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het die goewerneur onder koning Aretas die stad van die Damaskense by 'n garnisoen gehou, om my te vang. En deur 'n venster in 'n mandjie is ek deur die muur in die steek gelaat en sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Die Boodskap (DB)

Onthou julle dat ek julle vroeër gevra het om my nie te gou as ’n dwaas af te skryf nie? Of anders, doen dit tog maar sodat ek ook ’n bietjie kan spog. Wat ek nou sê, sê ek natuurlik nie met die gesag van die Here agter my nie. Nee, ek doen dit as ’n dwaas, en met die selfvertroue van ’n dwaas. Omdat so baie mense oor wêreldse dinge spog, gaan ek nou dieselfde doen. In elk geval, julle wat mos so verskriklik slim is, het glad nie ’n probleem om na dwase te luister nie, of hoe? Julle hou mos daarvan as mense julle slawe maak van allerhande verkeerde leringe wat hulle in julle kele afdruk. Julle gee ook nie om as hulle julle geld vat met hulle vroom praatjies nie. Dis skynbaar ook nie vir julle ’n probleem dat hulle julle vir hulle eie gewin misbruik nie, of dat hulle op julle neersien en julle soos vloerlappe behandel nie. Ek moet nou maar teenoor julle erken dat ek veels te swak is vir sulke behandeling. Ek sal dit nie vat as ander mense sulke dinge aan my doen nie. Julle hou ook baie daarvan as mense spog met al die groot dinge wat hulle vir die Here doen. Daarom doen ek dit nou ook. (Onthou tog net, dit is “die dwaas” wat nou aan die woord is.) Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook. Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig! Ek het harder gewerk as al daardie mense. Male sonder tal is ek in die tronk gegooi. Ek is meer kere geslaan as wat ek kan onthou. Dikwels het my lewe aan ’n draadjie gehang. Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike 39 houe te slaan. Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek was, gesink. ’n Ander keer moes ek ’n hele dag en nag op die oop see ronddryf. Ek het ook al die wêreld vol gereis. En ek moes al ’n groot klomp gevare trotseer: vol riviere; rowers wat my wou aanrand; my eie volksgenote en ander mense wat nie aan Israel behoort nie wat my prediking verwerp het; gevare in die stede en in woestyne; storms op die see en vals gelowiges wat my in die steek gelaat het. Ek moes ook baie hard werk. Baie nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dikwels het ek niks gehad om te eet of te drink nie. Kos was maar altyd ’n skaarste. Ek het ook nie altyd genoeg warm klere gehad om my teen die koue te beskerm nie. Asof dit nie genoeg is nie, moet ek ook nog elke dag ’n groot klomp krisisse hanteer. Die verskillende gemeentes se probleme lê swaar op my hart. Wanneer party gelowiges wil tou opgooi, voel ek hulle pyn aan my eie lyf. En wanneer hulle in die sonde val, voel dit vir my asof ek self deur die vuur stap. As ek dan nou oor myself moet spog, sal ek liewer oor al my swakhede spog. Ek lieg nie as ek al hierdie dinge vir julle sê nie. Ons wonderlike God weet dit. Hy is die Vader van ons Here Jesus. Sy Naam moet vir altyd grootgemaak word. O ja, toe ek vroeër in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas sy soldate beveel om die stad op te pas sodat ek nie kon ontsnap nie. Toe het die gelowiges my in ’n mandjie versteek en deur ’n venster in die stadsmuur laat afsak. So het ek daarin geslaag om te ontsnap.

2 KORINTIËRS 11:16-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek sê weer ’n keer: Niemand moet dink dat ek die kluts skoon kwyt is nie. Of so nie, beskou my maar as dwaas sodat ek ook ’n bietjie kan grootpraat. Wat ek nou gaan sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie saak praat ek regtig soos ’n dwaas in die vertroue dat ek wel rede het om te spog. Aangesien daar baie mense is wat op menslike gronde spog, gaan ek ook nou spog. Julle wat só slim is, verdra mos geredelik die dwase. Julle verdra dit as iemand julle op sleeptou neem, as iemand julle uitbuit, as iemand julle inloop, as iemand grootmeneer speel, as iemand julle trompop beledig. Ek sê dit tot my “skande” dat ons te “swak” daarvoor was! Nou praat ek regtig soos ’n dwaas: As iemand dit wil waag om te spog, ek kan nog meer spog. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook. Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ’n dag en ’n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes. Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie? Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uiter-mate ontsteld nie? As daar dan grootgepraat móét word, sal ek spog, maar dan veel eerder oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet – aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid – dat ek nie ’n leuen vertel nie. Toe ek in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas die stad Damaskus laat bewaak om my te arresteer. Deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie neergelaat en het ek sy hande ontglip.