Naäman was die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was 'n belangrike man en die koning het hom gerespekteer, want die Here het vir Naäman gebruik om die Arameërs te laat wen teen hulle vyande. Naäman kon goed oorlog maak, maar hy was melaats. Die Arameërs het voorheen eendag 'n paar stede in die land Israel gaan aanval. Naäman het toe 'n klein dogtertjie van Israel saamgebring om vir sy vrou te werk. Die dogtertjie het vir Naäman se vrou gesê: “As Meneer by die profeet Elisa in Samaria kan kom, dan sal die profeet hom gesond maak. Meneer sal dan nie meer melaats wees nie.”
Naäman het vir die koning gaan sê wat die dogtertjie sê wat van die land Israel kom, en die koning van Aram het vir Naäman gesê: “Jy moet na Israel gaan, ek sal 'n brief saamstuur vir die koning van Israel.”
Naäman het gegaan en hy het tien talente silwer, 6 000 sikkels goud en klere vir tien mense saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.”
Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.”
Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning 'n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is 'n profeet in die land Israel.”
Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis. Elisa stuur toe vir Naäman 'n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.”
Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak. Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in 'n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.”
Naäman was baie kwaad en hy het weggery. Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ”
Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos 'n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein. Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, die Here vir wie ek werk, ek sal niks van jou neem nie.”
Naäman het aangehou, maar Elisa wou niks neem nie. Toe sê Naäman: “As jy niks wil neem nie, mag ek dan asseblief 'n vrag grond saamneem, soveel soos twee muile kan dra? Ek wil van nou af net vir die Here offers bring, nie meer vir ander gode nie. Maar daar is een ding wat die Here vir my moet vergewe: Wanneer my koning in die tempel van Rimmon kom om daar te aanbid, dan sal die koning vir my sê ek moet langs hom staan en ek moet saam met hom aanbid. Die Here moet my vergewe wanneer ek dit doen.”
Elisa het vir Naäman gesê: “Goed, dit is nie 'n probleem nie.”
Naäman het weggegaan, maar hy was nog nie ver weg van Elisa nie. Gehasi, wat vir Elisa, die man van God, gewerk het, het gedink en vir homself gesê: “Kyk wat het my meneer gedoen, hy het hierdie Arameër laat weggaan en hy het niks geneem van die presente wat hy gebring het nie. So seker soos die Here lewe, ek sal hardloop en wanneer ek by hom kom, sal ek iets by hom kry.”
Gehasi hardloop toe na Naäman toe, en toe Naäman sien daar kom iemand wat na hom toe hardloop, het hy stilgehou. Hy het afgeklim van die wa en hy het gewag vir die man. Toe Gehasi by hom kom, het Naäman gevra: “Is daar iets verkeerd?”
Gehasi het gesê: “Nee, daar is niks verkeerd nie. My meneer het my gestuur om te sê daar het nou twee jongmanne van die Efraim-berg by hom gekom. Hulle is profete, en jy moet asseblief vir my meneer 'n talent silwer gee en ook klere vir twee persone.”
Naäman het geantwoord: “Jy moet asseblief twee talente silwer neem.”
Hy het aangehou sê dat Gehasi dit moet neem en hy het die twee talente silwer in twee sakke toegebind, en ook die klere. Hy het dit vir twee jongmanne gegee, en hulle het dit gedra en saam met Gehasi gegaan. Toe hulle bo-op die heuwel kom, het Gehasi die goed geneem wat die jongmanne gedra het en hy het dit in sy huis gaan bêre. Toe het hy vir hulle gesê hulle moet teruggaan, en hulle het gegaan. Gehasi het teruggekom by sy meneer, en toe hy by Elisa staan, vra Elisa: “Van waar kom jy, Gehasi?”
Gehasi het gesê: “Nee, ek was nie weg nie.”
Toe sê Elisa: “Ek het gesien hoe die man van sy wa afgeklim het en vir jou gewag het. Dit is nie nou die tyd om silwer en klere te neem nie, en ook nie olyfboorde en wingerde en skape en bokke en beeste en slawe en slavinne nie. Naäman was melaats, en sy siekte sal nou aan jou vassit en ook aan jou nageslag, julle sal altyd melaats wees.”
En toe Gehasi weggaan van Elisa, was Gehasi melaats, sy vel was so wit soos sneeu.