2 KONINGS 5:1-27
2 KONINGS 5:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Naäman was die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was 'n belangrike man en die koning het hom gerespekteer, want die Here het vir Naäman gebruik om die Arameërs te laat wen teen hulle vyande. Naäman kon goed oorlog maak, maar hy was melaats. Die Arameërs het voorheen eendag 'n paar stede in die land Israel gaan aanval. Naäman het toe 'n klein dogtertjie van Israel saamgebring om vir sy vrou te werk. Die dogtertjie het vir Naäman se vrou gesê: “As Meneer by die profeet Elisa in Samaria kan kom, dan sal die profeet hom gesond maak. Meneer sal dan nie meer melaats wees nie.” Naäman het vir die koning gaan sê wat die dogtertjie sê wat van die land Israel kom, en die koning van Aram het vir Naäman gesê: “Jy moet na Israel gaan, ek sal 'n brief saamstuur vir die koning van Israel.” Naäman het gegaan en hy het tien talente silwer, 6 000 sikkels goud en klere vir tien mense saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel gebring. Die koning van Aram het in die brief geskryf: “As hierdie brief by jou kom, dan moet jy weet dit is ék wat my offisier Naäman na jou toe stuur. Jy moet hom gesond maak, hy is melaats.” Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Dink hy ek is God wat mense kan doodmaak of hulle kan laat lewe? Hoekom stuur hierdie man sy offisier wat melaats is na my toe sodat ek hom moet gesond maak? Julle kan sien hy wil vir my probleme gee.” Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning 'n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is 'n profeet in die land Israel.” Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis. Elisa stuur toe vir Naäman 'n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.” Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak. Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in 'n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.” Naäman was baie kwaad en hy het weggery. Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ” Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos 'n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein. Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.” Maar Elisa het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, die Here vir wie ek werk, ek sal niks van jou neem nie.” Naäman het aangehou, maar Elisa wou niks neem nie. Toe sê Naäman: “As jy niks wil neem nie, mag ek dan asseblief 'n vrag grond saamneem, soveel soos twee muile kan dra? Ek wil van nou af net vir die Here offers bring, nie meer vir ander gode nie. Maar daar is een ding wat die Here vir my moet vergewe: Wanneer my koning in die tempel van Rimmon kom om daar te aanbid, dan sal die koning vir my sê ek moet langs hom staan en ek moet saam met hom aanbid. Die Here moet my vergewe wanneer ek dit doen.” Elisa het vir Naäman gesê: “Goed, dit is nie 'n probleem nie.” Naäman het weggegaan, maar hy was nog nie ver weg van Elisa nie. Gehasi, wat vir Elisa, die man van God, gewerk het, het gedink en vir homself gesê: “Kyk wat het my meneer gedoen, hy het hierdie Arameër laat weggaan en hy het niks geneem van die presente wat hy gebring het nie. So seker soos die Here lewe, ek sal hardloop en wanneer ek by hom kom, sal ek iets by hom kry.” Gehasi hardloop toe na Naäman toe, en toe Naäman sien daar kom iemand wat na hom toe hardloop, het hy stilgehou. Hy het afgeklim van die wa en hy het gewag vir die man. Toe Gehasi by hom kom, het Naäman gevra: “Is daar iets verkeerd?” Gehasi het gesê: “Nee, daar is niks verkeerd nie. My meneer het my gestuur om te sê daar het nou twee jongmanne van die Efraim-berg by hom gekom. Hulle is profete, en jy moet asseblief vir my meneer 'n talent silwer gee en ook klere vir twee persone.” Naäman het geantwoord: “Jy moet asseblief twee talente silwer neem.” Hy het aangehou sê dat Gehasi dit moet neem en hy het die twee talente silwer in twee sakke toegebind, en ook die klere. Hy het dit vir twee jongmanne gegee, en hulle het dit gedra en saam met Gehasi gegaan. Toe hulle bo-op die heuwel kom, het Gehasi die goed geneem wat die jongmanne gedra het en hy het dit in sy huis gaan bêre. Toe het hy vir hulle gesê hulle moet teruggaan, en hulle het gegaan. Gehasi het teruggekom by sy meneer, en toe hy by Elisa staan, vra Elisa: “Van waar kom jy, Gehasi?” Gehasi het gesê: “Nee, ek was nie weg nie.” Toe sê Elisa: “Ek het gesien hoe die man van sy wa afgeklim het en vir jou gewag het. Dit is nie nou die tyd om silwer en klere te neem nie, en ook nie olyfboorde en wingerde en skape en bokke en beeste en slawe en slavinne nie. Naäman was melaats, en sy siekte sal nou aan jou vassit en ook aan jou nageslag, julle sal altyd melaats wees.” En toe Gehasi weggaan van Elisa, was Gehasi melaats, sy vel was so wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, was 'n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die HERE aan die Arameërs 'n oorwinning gegee; en die man was 'n dapper held, maar melaats. En die Arameërs het in bendes uitgetrek en uit die land van Israel 'n klein dogtertjie as gevangene weggevoer wat in diens van Naäman se vrou gekom het. En sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem. Toe gaan hy in en gee dit aan sy heer te kenne en sê: So en so het die dogtertjie gespreek wat uit die land van Israel kom. En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil 'n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en sesduisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem, en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem. Sodra die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van 'n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy 'n geleentheid teen my soek. Maar toe Elísa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, laat hy die koning weet: Waarom skeur u u klere? Laat hom maar na my kom; dan sal hy weet dat daar 'n profeet in Israel is. So het Naäman dan gekom met sy perde en met sy waens en voor die deur van Elísa se huis stilgehou. Toe stuur Elísa 'n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees. Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u 'n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word? Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van 'n jong seun, en hy het rein geword. Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog 'n geskenk aan van u dienaar. Maar hy sê: So waar as die HERE leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier. En Naäman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar 'n vrag grond gegee word, soveel as 'n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die HERE. Mag die HERE in hierdie saak u dienaar vergewe: as my heer in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig, terwyl hy op my hand leun, sodat ek my ook in die huis van Rimmon neerbuig — as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag die HERE dan tog in hierdie saak u dienaar vergewe. En hy sê vir hom: Gaan in vrede! Nadat hy 'n ent pad van hom weggetrek het, sê Gehási, die dienaar van Elísa, die man van God: Kyk, my heer het hierdie Arameër Naäman verskoon deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie. So waar as die HERE leef, sekerlik sal ek agter hom aan loop en iets van hom aanneem. So het Gehási dan Naäman haastig gevolg. En toe Naäman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgespring hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed? En hy antwoord: Dit gaan goed; my heer stuur my om te sê: Kyk, daar het nou net twee jongmanne, profete-seuns, van die gebergte van Efraim af, na my gekom. Gee aan hulle tog 'n talent silwer en twee stel klere. En Naäman sê: Neem asseblief twee talente! En hy het by hom aangehou en twee talente silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met twee stel klere aan twee van sy dienaars gegee, wat dit voor hom uit gedra het. En toe hy by die heuwel aankom, het hy dit uit hulle hand geneem en in die huis in bewaring gegee en die manne laat gaan; en hulle het weggegaan. Toe hy dan inkom en by sy heer staan, sê Elísa vir hom: Vanwaar, Gehási? En hy antwoord: U dienaar het nêrens heengegaan nie. Maar hy sê vir hom: Het my hart nie saamgegaan toe 'n man van sy wa af omgedraai het jou tegemoet nie? Is dit tyd om die silwer te neem en om klere te neem en olyfbome en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne? Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.
2 KONINGS 5:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het. “Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met 'n brief na die koning van Israel toe.” Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.” Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het 'n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. Elisa het 'n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.” Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?” So het hy woedend daarvandaan teruggery. Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein. Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.” Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.” Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier. Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!” Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was, het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.” Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?” “Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.” Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.” Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra. Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is, en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?” Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.” Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne? Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.” Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was 'n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die HERE aan Aram 'n oorwinning gegee. Maar die man, 'n dapper kryger, het 'n velsiekte gehad. Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en 'n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om 'n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.” Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man 'n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy 'n rede teen my soek.” Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. Elisa het 'n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die HERE sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan. Maar sy dienaars het nader gegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit 'n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van 'n klein seuntjie, en hy was rein. Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” Maar Elisa het gesê: “So waar as die HERE leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier. Toe sê Naäman: “As u nie kan nie, laat daar dan asseblief aan u dienaar twee muilvragte grond gegee word; want u dienaar sal nie meer 'n •brandoffer of 'n •maaltydoffer aan ander gode bring nie, net aan die HERE. In die volgende geval moet die HERE u dienaar vergewe: Wanneer my heer in die tempel van Rimmon ingaan om daar in aanbidding te buig, leun hy gewoonlik op my arm, en dan moet ek ook in die tempel van Rimmon in aanbidding buig. Wanneer ek dan in die tempel van Rimmon in aanbidding buig, moet die HERE asseblief u dienaar daarvoor vergewe.” Elisa het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Naäman was al 'n hele ent van hom af weg, toe dink Gehasi, die dienaar van Elisa, die man van God: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, lig daarvan laat afkom deur nie uit sy hand te neem wat hy gebring het nie. So waar as die HERE leef, ek gaan beslis agter hom aan hardloop en iets van hom neem. Gehasi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien iemand hardloop agter hom aan, spring hy van die strydwa af om hom tegemoet te gaan en vra: “Is alles reg?” Hy antwoord toe: “Alles is reg. My heer het my gestuur om te sê, ‘Kyk, daar het nou net twee jong manne van die heuwelland van Efraim af by my aangekom. Hulle is van die profetegroep. Gee asseblief vir hulle 'n kikkar silwer en twee stelle klere. ’ ” Daarop sê Naäman: “Wees so vriendelik en aanvaar twee kikkar! ” Hy het by hom aangedring en twee kikkar silwer in twee sakke toegebind, asook twee stelle klere. Hy het dit vir twee van sy dienaars gegee, en hulle het dit voor Gehasi gedra. Maar toe hy by die stadsheuwel kom, het hy dit uit hulle hande geneem en veilig in die huis gebêre. Hy het die manne weggestuur, en hulle het vertrek; maar hy het na binne gegaan en by sy heer gaan staan. Elisa het vir hom gevra: “Vanwaar, Gehasi?” Hy het geantwoord: “U dienaar het nêrens heen gegaan nie.” Elisa sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees teenwoordig toe 'n man van sy strydwa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Was die tyd dan ryp om silwer te neem, om klere te neem, en daarmee olyfboorde en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne te bekom? Die velsiekte van Naäman sal aan jou en jou nageslag kleef vir altyd.” Toe Gehasi van hom af weggaan, het hy die velsiekte gehad – soos sneeu.
2 KONINGS 5:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Naäman, leërowerste van die koning van Aram, was 'n groot man by sy heer en eerbaar, want deur hom het die HERE aan Aram verlos; ook hy was 'n dapper held, maar hy was melaats. En die Arameërs het in menigte uitgetrek en 'n diensmeisie uit die land van Israel as gevangenes weggevoer; en sy het op Naäman se vrou gewag. En sy sê vir haar meesteres: Sou God, my heer, by die profeet wees wat in Samaria is! want hy sou hom van sy melaatsheid herstel. En een het ingegaan en dit aan sy heer vertel en gesê: So en so het die diensmeisie wat uit die land van Israel is, gesê. Toe sê die koning van Aram: Gaan, gaan, en ek sal 'n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het weggegaan en tien talente silwer en ses duisend sikkels goud en tien wisselklere met hom saamgeneem. En hy het die brief aan die koning van Israel gebring en gesê: As hierdie brief nou by jou kom, kyk, ek stuur daarmee my dienaar Naäman na jou toe, dat jy hom van sy melaatsheid kan herstel. En toe die koning van Israel die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: Is ek God om dood te maak en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om 'n man van sy melaatsheid te herstel? let daarom tog op en kyk hoe hy 'n twis teen my soek. En toe Elísa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy na die koning gestuur om te sê: Waarom skeur jy jou klere? laat hom nou na my toe kom, en hy sal weet dat daar 'n profeet in Israel is. Naäman het toe gekom met sy perde en met sy strydwa en by die ingang van die huis van Elisa gaan staan. En Elísa het 'n boodskapper na hom gestuur om te sê: Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, en jou vlees sal na jou terugkom, en jy sal rein wees. Maar Naäman was kwaad en het weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my toe uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek slaan en die melaatse. Is Abana en Farpar, riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? mag ek nie daarin was en rein word nie? Daarom het hy omgedraai en woedend weggegaan. En sy dienaars het nader gekom en met hom gespreek en gesê: My vader, as die profeet jou iets groots aangesê het om te doen, sou jy dit nie gedoen het nie? hoeveel eerder as Hy vir jou sê: Was en word rein? Toe het hy afgegaan en hom sewe maal in die Jordaan gedoop, volgens die woord van die man van God; en sy vlees het teruggekom soos die vlees van 'n kindjie, en hy was rein. En hy het na die man van God teruggekeer, hy en sy hele menigte, en gekom en voor hom gaan staan; en hy het gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel; Bid, neem 'n seën van u kneg. Maar hy sê: So waar as die HERE leef voor wie ek staan, ek sal niemand aanneem nie. En hy het hom aangespoor om dit te neem; maar hy het geweier. Toe sê Naäman: Sal daar tog nie twee muile grond aan u dienaar gegee word nie? want u dienaar sal voortaan geen brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie, maar aan die HERE. In hierdie saak vergewe die HERE u kneg dat as my heer in die huis van Rimmon ingaan om daar te aanbid, en hy op my hand leun en ek my neerbuig in die huis van Rimmon; as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, vergewe die HERE u kneg in hierdie saak. En hy sê vir hom: Gaan in vrede. Daarom het hy 'n entjie van hom af weggegaan. Maar Gehasi, die dienaar van Elísa, die man van God, het gesê: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, gespaar deur nie uit sy hand te ontvang wat hy gebring het nie; maar so waar as die HERE leef, ek sal agter hom aan hardloop en neem ietwat van hom. Gehasi het toe vir Naäman gevolg. En toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgeklim hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed? En hy sê: Alles is goed. My heer het my gestuur om te sê: Kyk, nou het daar twee jongmanne uit die profete-seuns na my gekom van die berg Efraim af; gee tog vir hulle 'n talent silwer en twee onderklere. Toe sê Naäman: Wees tevrede, neem twee talente. En hy het by hom aangedring en twee talente silwer in twee sakke gebind, met twee onderklere, en dit op twee van sy dienaars gelê; en hulle het dit voor hom gedra. En toe hy by die toring kom, het hy dit uit hulle hand geneem en dit in die huis gegee; en hy het die manne laat gaan, en hulle het weggegaan. Maar hy het ingegaan en voor sy heer gaan staan. En Elísa sê vir hom: Waar kom jy vandaan, Gehasi? En hy sê: U dienaar het nêrens heen gegaan nie. En hy sê vir hom: Het my hart nie saam met jou gegaan toe die man omgedraai het van sy strydwa jou tegemoet nie? Is dit 'n tyd om geld te ontvang en om klere te ontvang en olyfbome en wingerde en skape en beeste en slawe en slavinne? Daarom sal die melaatsheid van Naäman aan jou en jou nageslag vir ewig kleef. En hy het van sy aangesig weggegaan, 'n melaatse so wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:1-27 Die Boodskap (DB)
Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad. Aramese bendes het in dié tyd strooptogte in dele van Israel uitgevoer. Een van hulle gevangenes was ’n jongmeisie. Sy het in Naäman se huis beland as bediende vir sy vrou. Op ’n dag sê die meisie vir Naäman se vrou: “Ek wens Meneer kon by die profeet in Samaria uitkom. Hy sou hom maklik gesond kon maak.” Naäman het daarvan gehoor en vir die koning gaan vertel wat die Israelitiese meisie gesê het. Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?” Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra. Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!” Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery. Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.” Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word. Is die Abanarivier en die Parparrivier van Damaskus nie in elk geval beter as al Israel se riviere saam nie? Waarom kan ek my nie dáár gaan was om gesond te word nie?” Hy is toe woedend daar weg. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.” Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier. Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer. Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!” Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!” Gehasi is toe haastig agter Naäman aan. Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?” “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?” Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie! Omdat jy dit gedoen het, gaan jy en jou nageslag altyd aan die velsiekte ly waarvan Naäman so pas gesond geword het.” Toe Gehasi van Elisa af weggaan, was sy vel reeds spierwit uitgeslaan van die siekte.
2 KONINGS 5:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Naäman was die koning van Aram se bevelvoerder van die leër. Hy was ’n belangrike man en hoog in aansien by die koning, want die HERE het deur hom groot oorwinnings aan Aram gegee. Hoewel Naäman ’n magtige krygsman was, was hy melaats. Die Arameërs het strooptogte in die land Israel uitgevoer en ’n jong Israelitiese meisie gevang. Sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword. Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Naäman het die koning gaan vertel wat die meisie uit Israel gesê het. “Gaan gerus,” sê die koning van Aram. “Ek sal ’n brief skryf wat jy vir die koning van Israel kan gee.” Naäman het toe gegaan. Hy het 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Hy het die brief aan die koning van Israel gegee. Dit het gelui: “Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe sodat jy hom van sy melaatsheid kan gesond maak.” Toe die koning van Israel dit lees, het dit hom ontstel sodat hy sy klere geskeur het en sê: “Hierdie man stuur ’n melaatse na my toe om hom gesond te maak! Is ek dan God wat kan doodmaak en laat lewe? Kyk, hy soek net moeilikheid met my!” Elisa, die man van God, het gehoor van die koning se reaksie en stuur toe vir hom ’n boodskap: “Hoekom is u so ontsteld? Stuur Naäman na my toe. Dan sal hy agterkom dat daar ’n ware profeet in Israel is.” Naäman het met sy perde en strydwaens gekom en voor Elisa se huis gewag. Maar Elisa het ’n boodskap aan hom gestuur: “Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jou liggaam herstel en sal jy van die melaatsheid gesond word.” Maar Naäman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die HERE sy God aanroep en so vir my gesond maak! Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan. Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?” Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees! Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.” Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die HERE leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier. Naäman sê toe: “As u dit nie wil neem nie, sal u toelaat dat ek twee muilvragte grond kry om saam te vat? Van nou af sal ek nooit weer brandoffers of ander offers aan enige god bring nie as net aan die HERE. Maar mag die HERE my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die HERE my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.” “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin. Toe hy ’n entjie weg was, sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die HERE leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.” Gehasi het hom toe agternagesit. Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman. “Nee, alles is reg,” antwoord Gehasi. “My meester het my gestuur om vir u te sê twee jong profete het so pas uit die Efraimsberge aangekom. Hy sou graag 34 kilogram silwer en twee stelle klere wou hê om vir hulle te gee.” “Sekerlik, maar vat 68 kilogram silwer,” sê Naäman. Hy het by hom daarop aangedring om die 68 kilogram silwer en twee stelle klere te neem. Dit het hy in twee sakke gepak en saam met die twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee om dit voor Gehasi uit te dra. Toe hulle by die heuwel kom, vat Gehasi die geskenke by die dienaars en steek dit weg in sy huis. Daarna het hy die manne teruggestuur. Toe hy by die profeet kom, vra Elisa vir hom: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” antwoord hy. Maar Elisa sê vir hom: “Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet nie? Is dit die tyd om geld en klere, olyfboorde en wingerde, skape en beeste, slawe en slavinne in die hande te kry? Omdat jy dit gedoen het, sal jy en jou nageslag vir altyd ly aan die melaatsheid van Naäman.” Toe Gehasi die vertrek verlaat, was hy reeds melaats, so wit soos sneeu.