2 Konings 5:1-27

2 Konings 5:1-27 DB

Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad. Aramese bendes het in dié tyd strooptogte in dele van Israel uitgevoer. Een van hulle gevangenes was ’n jongmeisie. Sy het in Naäman se huis beland as bediende vir sy vrou. Op ’n dag sê die meisie vir Naäman se vrou: “Ek wens Meneer kon by die profeet in Samaria uitkom. Hy sou hom maklik gesond kon maak.” Naäman het daarvan gehoor en vir die koning gaan vertel wat die Israelitiese meisie gesê het. Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem. Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?” Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra. Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!” Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery. Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.” Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word. Is die Abanarivier en die Parparrivier van Damaskus nie in elk geval beter as al Israel se riviere saam nie? Waarom kan ek my nie dáár gaan was om gesond te word nie?” Hy is toe woedend daar weg. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.” Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier. Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer. Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!” Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!” Gehasi is toe haastig agter Naäman aan. Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?” “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?” Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie! Omdat jy dit gedoen het, gaan jy en jou nageslag altyd aan die velsiekte ly waarvan Naäman so pas gesond geword het.” Toe Gehasi van Elisa af weggaan, was sy vel reeds spierwit uitgeslaan van die siekte.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 5:1-27