Handelinge 1:1-11

Handelinge 1:1-11 ABA

Teofilus, ek het in my eerste boek geskryf oor alles wat Jesus gedoen het en wat Hy vir mense geleer het toe Hy op aarde was, tot die dag toe Jesus na die hemel gegaan het. Jesus het mense gekies om sy apostels te wees, en voordat God Hom na die hemel geneem het, het Jesus vir die apostels gesê wat hulle moet doen wanneer Hy weg is. Die Heilige Gees het vir Jesus gesê wat Hy vir hulle moet sê. Nadat Jesus swaargekry en gesterf het, het Hy vir die apostels gewys dat Hy weer lewe. Hy het baie maal vir hulle bewys dat Hy weer lewe. Hy het 40 dae lank baie maal aan hulle verskyn en vir hulle vertel van God wat Koning is oor almal. Jesus het by die apostels gebly en Hy het vir hulle gesê hulle mag nie weggaan van Jerusalem nie. Hulle moes daar wag totdat alles gebeur het wat die Vader belowe het. Jesus het gesê: “Ek het al klaar vir julle vertel van hierdie belofte. Die belofte is: Johannes die Doper het julle met water gedoop, maar God sal julle met die Heilige Gees doop. Julle sal nie lank moet wag nie.” Toe die apostels weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, sal U nou vir Israel weer 'n sterk volk maak wat sy eie koning het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Julle mag nie weet wanneer die Vader die dinge sal doen wat Hy graag wil doen nie. Net Hy kan besluit wanneer Hy dit sal doen. Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld.” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het God vir Jesus opgeneem na die hemel, terwyl die apostels gestaan en kyk het. En 'n wolk het vir Jesus toegemaak sodat hulle Hom nie meer kon sien nie. Terwyl Jesus weggegaan het en die apostels na die hemel gekyk het, het daar skielik twee manne by hulle gestaan, die manne het wit klere aangehad. Die manne het gesê: “Manne van Galilea, hoekom kyk julle so na die hemel? God het vir Jesus weggeneem na die hemel, maar dieselfde Jesus sal weer kom soos julle gesien het dat Hy weggaan na die hemel.”