Handelinge 15:1-11

Handelinge 15:1-11 ABA

Daar het party mense van die land Judea gekom na die stad Antiogië in die provinsie Sirië. Hulle het vir die gelowiges geleer en gesê: “As iemand julle nie besny soos die Wette van Moses sê nie, dan kan God julle nie red nie.” Maar Paulus en Barnabas het reguit gesê dat hierdie mense wat van Judea gekom het, verkeerd is, en hulle het met die mense gestry. Toe het die gemeente besluit dat Paulus en Barnabas en party ander mense van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan om met hulle te praat oor hierdie dinge waaroor hulle so gestry het. Die gemeente in Antiogië het vir Paulus en Barnabas en die ander mense gestuur, en hulle het deur die land Fenisië en die provinsie Samaria gegaan. Hulle het vir die gelowiges vertel dat die heidene verander het en dat hulle begin lewe het soos God wil hê, en so het Paulus en sy vriende al die gelowiges baie bly gemaak. In Jerusalem het die gemeente en die apostels en die ouderlinge vir Paulus, Barnabas en die ander vriende gesê dat hulle welkom is. Toe het Paulus, Barnabas en die ander vriende vir die mense vertel van alles wat God vir hulle laat doen het. Maar party van die gelowiges was Fariseërs voordat hulle in Christus begin glo het. Hulle het opgestaan en gesê: “Daardie heidene wat nou in Christus glo, moet besny word. Julle moet ook vir hulle sê dat hulle moet doen wat die Wette van Moses sê.” Die apostels en die ouderlinge het toe vergadering gehou om hieroor te praat. Nadat hulle baie met mekaar hieroor gestry het, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Vriende, julle weet dat God lank gelede vir my gekies het om die goeie boodskap te bring sodat die heidene dit kan hoor en kan begin glo in die Here. God weet hoe 'n mens se hart regtig is. God het vir die heidene wat begin glo het, die Heilige Gees gegee, soos Hy voorheen die Heilige Gees ook vir ons gegee het. So het God vir die mense gewys dat dit Hý is wat werk. God het ook nie gedink dat die heidene anders is as ons wat Jode is nie, want Hy het vir die heidene rein gemaak omdat hulle in Christus glo. Julle moenie nou vir God toets en kwaad maak nie, moenie 'n juk sit op die nek van die gelowiges wat voorheen heidene was nie. Julle weet dat julle voorouers nie so 'n juk kon dra nie, en ons kan ook nie. Nee, ons glo dat God ook vir ons red soos Hy die heidene red, omdat die Here Jesus genadig is vir ons.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 15:1-11