HANDELINGE 15:1-11

HANDELINGE 15:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.” Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in 'n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog 'n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk. Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het, maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.” Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies 'n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”

HANDELINGE 15:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Daar het party mense van die land Judea gekom na die stad Antiogië in die provinsie Sirië. Hulle het vir die gelowiges geleer en gesê: “As iemand julle nie besny soos die Wette van Moses sê nie, dan kan God julle nie red nie.” Maar Paulus en Barnabas het reguit gesê dat hierdie mense wat van Judea gekom het, verkeerd is, en hulle het met die mense gestry. Toe het die gemeente besluit dat Paulus en Barnabas en party ander mense van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan om met hulle te praat oor hierdie dinge waaroor hulle so gestry het. Die gemeente in Antiogië het vir Paulus en Barnabas en die ander mense gestuur, en hulle het deur die land Fenisië en die provinsie Samaria gegaan. Hulle het vir die gelowiges vertel dat die heidene verander het en dat hulle begin lewe het soos God wil hê, en so het Paulus en sy vriende al die gelowiges baie bly gemaak. In Jerusalem het die gemeente en die apostels en die ouderlinge vir Paulus, Barnabas en die ander vriende gesê dat hulle welkom is. Toe het Paulus, Barnabas en die ander vriende vir die mense vertel van alles wat God vir hulle laat doen het. Maar party van die gelowiges was Fariseërs voordat hulle in Christus begin glo het. Hulle het opgestaan en gesê: “Daardie heidene wat nou in Christus glo, moet besny word. Julle moet ook vir hulle sê dat hulle moet doen wat die Wette van Moses sê.” Die apostels en die ouderlinge het toe vergadering gehou om hieroor te praat. Nadat hulle baie met mekaar hieroor gestry het, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Vriende, julle weet dat God lank gelede vir my gekies het om die goeie boodskap te bring sodat die heidene dit kan hoor en kan begin glo in die Here. God weet hoe 'n mens se hart regtig is. God het vir die heidene wat begin glo het, die Heilige Gees gegee, soos Hy voorheen die Heilige Gees ook vir ons gegee het. So het God vir die mense gewys dat dit Hý is wat werk. God het ook nie gedink dat die heidene anders is as ons wat Jode is nie, want Hy het vir die heidene rein gemaak omdat hulle in Christus glo. Julle moenie nou vir God toets en kwaad maak nie, moenie 'n juk sit op die nek van die gelowiges wat voorheen heidene was nie. Julle weet dat julle voorouers nie so 'n juk kon dra nie, en ons kan ook nie. Nee, ons glo dat God ook vir ons red soos Hy die heidene red, omdat die Here Jesus genadig is vir ons.”

HANDELINGE 15:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog 'n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk. En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf. En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het. Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou. En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.

HANDELINGE 15:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.” Aangesien hieroor meningsverskil ontstaan het, en Paulus en Barnabas met hulle 'n woordestryd gevoer het wat hoegenaamd nie onbenullig was nie, het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog 'n paar ander uit hulle geledere na die •apostels en ouderlinge in Jerusalem moes opgaan oor hierdie strydvraag. Hulle is toe deur die •gemeente weggestuur, en het deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig oor die bekering van die heidene berig, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente en die apostels en ouderlinge ontvang. Paulus en Barnabas het vertel wat God alles met hulle gedoen het. Sommige mense wat aan die •Fariseërs se party behoort en gelowig geword het, het egter opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en opdrag kry om die •Wet van Moses te onderhou.” Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.”

HANDELINGE 15:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En sekere manne wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer en gesê: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. Toe Paulus en Bárnabas dan nie 'n geringe onenigheid en twis met hulle gehad het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en sommige ander van hulle na Jerusalem moes optrek na die apostels en ouderlinge oor hierdie vraag. En toe hulle deur die gemeente op pad gebring is, het hulle deur Fenicië en Samaria gegaan en die bekering van die heidene aangekondig; en hulle het groot blydskap vir al die broeders gemaak. En toe hulle in Jerusalem aangekom het, is hulle ontvang deur die gemeente en deur die apostels en ouderlinge, en hulle het alles vertel wat God met hulle gedoen het. Maar sommige van die sekte van die Fariseërs wat gelowig geword het, het opgestaan en gesê: Dit was nodig om hulle te besny en om hulle te beveel om die wet van Moses te onderhou. En die apostels en ouderlinge het bymekaargekom om hierdie saak te oorweeg. En toe daar baie twis was, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Manne en broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons gekies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sou hoor, en glo. En God, wat die harte ken, het vir hulle getuig en aan hulle die Heilige Gees gegee, net soos Hy aan ons gedoen het; En maak geen verskil tussen ons en hulle nie, en reinig hulle harte deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God om 'n juk op die nek van die dissipels te lê, wat nie ons vaders en ons in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered sal word, net soos hulle.

HANDELINGE 15:1-11 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het ’n groepie Jode uit Judea in Antiogië aangekom. Hulle het vir die Christene gesê: “Julle moet julle laat besny. So nie, sal God julle nooit red nie.” Paulus en Barnabas was baie omgekrap daaroor. Hulle het met dié mense begin stry oor hulle skewe sienings. Later het die gemeente besluit om vir Paulus en Barnabas en ’n paar ander mense na Jerusalem te stuur om te hoor wat die apostels en ander kerkleiers daar oor die besnydenis te sê gehad het. Op pad Jerusalem toe het die groep by die gemeentes in Fenisië en Samaria oorgebly. Hulle het vir die gelowiges vertel hoe God ook gewerk het onder mense uit ander volke op wie die Jode neersien. Toe die gelowiges hoor dat daardie mense tot geloof gekom het, was hulle baie bly. Met hulle aankoms in Jerusalem is Paulus-hulle vriendelik deur die gemeentelede ontvang. Die apostels en die ouderlinge was ook daar om hulle te verwelkom. Hulle het toe aan die kerk in Jerusalem verslag gedoen van al die groot dinge wat God deur hulle laat gebeur het. ’n Klompie Fariseërs wat intussen ook tot bekering gekom het, was geskok toe hulle hoor hoe Paulus en Barnabas onder nie-Jode gewerk het. “Julle moet daardie mense dadelik laat besny. Julle moet ook sorg dat hulle die wet van Moses streng onderhou,” het hulle gesê. Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek. By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom. God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het. “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo. “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom? Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.”

HANDELINGE 15:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges probeer wysmaak: “As julle julle nie laat besny soos Moses dit voorskryf nie, kan julle nie verlos word nie.” Paulus en Barnabas het hulle daarteen verset en in ’n taamlik ernstige meningsverskil met hulle betrokke geraak. Uiteindelik het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander uit hulle geledere oor hierdie vraagstuk na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan. So is hulle deur die gemeente uitgestuur. Hulle het deur Fenisië en Samaria gereis en vertel van die bekering van die nie-Jode. Met hierdie nuus het hulle al die gelowiges baie bly gemaak. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die hele gemeente, insluitend die apostels en die ouderlinge, verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle bediening tot stand gebring het. Sommige van dié wat gelowiges geword het uit die geledere van die Fariseërs, het egter opgestaan en verklaar: “Nie-Joodse bekeerlinge moet besny word en die opdrag kry om die wet van Moses te onderhou.” Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk. Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom. En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons. Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle dan nou beter as God weet deur op die nek van die nie-Joodse gelowiges ’n juk te lê wat ons voorgeslagte nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? Nee! Ons glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus verlos word – en dit geld ook vir daardie mense.”