Handelinge 15
15
Paulus en Barnabas gaan praat
in Jerusalem oor die besnydenis
1In daardie tyd het ’n groepie Jode uit Judea in Antiogië aangekom. Hulle het vir die Christene gesê: “Julle moet julle laat besny. So nie, sal God julle nooit red nie.”
2Paulus en Barnabas was baie omgekrap daaroor. Hulle het met dié mense begin stry oor hulle skewe sienings. Later het die gemeente besluit om vir Paulus en Barnabas en ’n paar ander mense na Jerusalem te stuur om te hoor wat die apostels en ander kerkleiers daar oor die besnydenis te sê gehad het.
3Op pad Jerusalem toe het die groep by die gemeentes in Fenisië en Samaria oorgebly. Hulle het vir die gelowiges vertel hoe God ook gewerk het onder mense uit ander volke op wie die Jode neersien. Toe die gelowiges hoor dat daardie mense tot geloof gekom het, was hulle baie bly.
4Met hulle aankoms in Jerusalem is Paulus-hulle vriendelik deur die gemeentelede ontvang. Die apostels en die ouderlinge was ook daar om hulle te verwelkom. Hulle het toe aan die kerk in Jerusalem verslag gedoen van al die groot dinge wat God deur hulle laat gebeur het. 5’n Klompie Fariseërs wat intussen ook tot bekering gekom het, was geskok toe hulle hoor hoe Paulus en Barnabas onder nie-Jode gewerk het. “Julle moet daardie mense dadelik laat besny. Julle moet ook sorg dat hulle die wet van Moses streng onderhou,” het hulle gesê.
Die leiers van die kerk hou vergadering
6Die apostels het saam met die ouderlinge ’n vergadering belê om dit behoorlik te bespreek.
7By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom. 8God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het.
9“God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo.
10“Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom? 11Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.”
Paulus en Barnabas getuig oor God se werk
12Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus. 13Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my. 14Petrus het nou vir ons verduidelik hoe God lank terug besluit het om mense wat nie aan ons volk behoort nie nou ook deel van sy nuwe volk te maak. Hy het dit gedoen sodat hulle Hom ook kan dien. 15Dit is presies wat die profete vroeër geskryf het:
16‘Ek sal binnekort terugkom, sê die Here. Dan sal Ek Dawid se koninkryk herstel wat nou in puin lê. Ek sal alles herbou wat afgebreek is. Ek sal dit splinternuut maak. In daardie tyd sal ander mense na my nuwe koninkryk toe stroom. 17Al die volke wat Ek na My toe uitnooi, sal dan na My toe kom. Ek, die Here, sal dit alles doen. 18Maar julle weet tog al hierdie dinge, want Ek het dit al lank gelede aan julle bekendgemaak.’
19“Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê: 20Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie.
“Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie.
21“Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.”
’n Brief aan die Christene in Antiogië
22Almal by die vergadering het met Jakobus se voorstel saamgestem. Die apostels, die ouderlinge en die gemeente het toe besluit om twee mans aan te wys om saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te gaan. Hulle name was Judas (sy bynaam was Barsabbas) en Silas, twee van die leiers in die kerk. Hierdie mans moes ’n brief namens die Jerusalemgemeente na Antiogië toe vat.
23Dit is wat in die brief gestaan het:
Van die apostels en die ouderlinge en al die gelowiges hier in Jerusalem.
Aan almal daar in die kerk in Antiogië, Sirië en Silisië wat vanuit die nie-Jodedom kom.
Ons groet julle as ons broers en susters.
24Ons het gehoor dat ’n klompie mense uit Jerusalem daar by julle opgedaag het wat dinge vir julle gesê het wat julle omgekrap het. Ons verseker julle dat ons hulle nie na julle toe gestuur het nie. Hulle het sonder ons toestemming na julle toe gegaan.
25Ons het nou eenparig besluit om twee afgevaardigdes saam met ons twee geliefde broers, Barnabas en Paulus, na julle toe te stuur. 26Hulle was bereid om hulle lewens op die spel te plaas ter wille van ons Meester, Jesus Christus. 27Judas en Silas kom ook nou saam met hulle na julle toe. Hulle sal vir julle alles verduidelik wat ons in hierdie brief skryf.
28Die Heilige Gees en ons het saam besluit dat julle julle nie hoef te laat besny nie. Al wat ons van julle vra, is om die volgende voorskrifte na te kom:
29Moenie kos eet wat aan die afgode geoffer is nie.
Moenie bloed drink of vleis eet van enige dier wat verwurg is nie.
Moenie julle skuldig maak aan enige vorm van seksuele losbandigheid nie.
As julle hierdie voorskrifte gehoorsaam, doen julle goed.
Beste wense.
Die brief word gelees
30Met die brief in die hand het die mans toe na Antiogië toe teruggekeer. Daar het hulle die hele gemeente bymekaargeroep en die brief voorgelees.31Almal was baie bly toe hulle hoor dat hulle nie verplig was om besny te word nie. 32Judas en Silas, self ook profete wat die Here se wil bekendgemaak het, het toe lank met die gelowiges in Antiogië gepraat. Hulle het by ’n hele paar geleenthede met hulle oor God gepraat en hulle geloof opgebou. 33Na ’n ruk het Judas besluit om na Jerusalem terug te keer. Hy het van almal afskeid geneem. Nadat die gemeente hom ’n veilige reis toegewens het, het hy vertrek.
35Paulus en Barnabas het in Antiogië agtergebly. Hulle het die gelowiges geleer hoe om te leef soos God dit wil hê. Hulle het ook die goeie nuus oor Jesus onder die inwoners van die stad bekendgemaak. Baie ander gelowiges het presies dieselfde gedoen.
Paulus en Barnabas se paaie skei
36Op ’n dag het Barnabas vir Paulus kom sê: “Kom ons gaan lê weer besoek af by die gelowiges in al die stede waar ons vroeër die Woord van die Here verkondig het. Dan kan ons sien hoe dit met hulle gaan.” 37Barnabas wou vir Johannes Markus saamvat.
38Maar Paulus was nie bereid om Markus saam te neem nie. Hy het hulle die vorige keer daar by Pamfilië in die steek gelaat. 39Hulle twee het toe oor Markus aan die stry geraak. Later het hulle so ernstig van mekaar verskil dat hulle besluit het om elkeen sy eie koers te gaan. Barnabas het toe vir Markus gevat en met ’n skip na Siprus vertrek. 40Op sy beurt het Paulus vir Silas, wat intussen weer na Antiogië toe gekom het, as sy nuwe helper gekies. Die gemeente van Antiogië het vir hulle gebid en hulle aan die goedheid en sorg van die Here opgedra. Daarna het 41Paulus en Silas na Sirië en Silisië vertrek. Hulle het die gelowiges daar gaan moed inpraat en vir hulle gesê om aan te hou om in God te glo.
Tans Gekies:
Handelinge 15: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.