Kolossense 4
4
1Julle wat eienaars van slawe is, julle moet reg doen aan julle slawe, soos die Here wil hê. Julle moet onthou dat julle ook 'n Eienaar in die hemel het.
Gelowiges moet bid en reg lewe
2Julle moenie ophou bid nie, julle moet wakker wees en julle moet altyd vir God dankie sê. 3Julle moet ook vir ons bid. Ons wil graag hê dat God vir ons moet stuur om weer te gaan preek en vir mense die boodskap oor Christus te bring. Dit is 'n boodskap wat niemand voorheen geken het nie, maar God het dit nou vir ons gesê. Ek is nou in die tronk omdat ek die boodskap oor Christus gepreek het. 4Julle moet vir my bid dat ek oor daardie boodskap sal preek en dat ek dit sal verduidelik soos ek moet.
5Wanneer julle by mense is wat nie in Christus glo nie, dan moet julle reg lewe. Ja, julle moet julle tyd reg gebruik. 6Wanneer julle met mense praat, dan moet julle altyd vriendelik wees. Dit moet vir die mense lekker wees om na julle te luister. Ja, julle moet altyd die regte dinge vir elke mens sê.
Baie mense stuur groete vir die Kolossense
7Tigikus sal vir julle alles vertel wat met my gebeur het. Hy is my goeie vriend, en hy doen sy werk vir die kerk goed. Hy werk baie hard saam met my vir die Here. 8Ja, ek stuur vir Tigikus na julle toe sodat julle kan hoor hoe dit met ons gaan. Hy sal julle help sodat julle geloof sterk bly. 9Ek stuur ook vir Onesimus saam met Tigikus. Onesimus is 'n goeie vriend, en hy doen sy werk goed. Hy is een van julle. Onesimus en Tigikus sal vir julle alles vertel wat hier gebeur het.
10Aristargus is saam met my in die tronk en hy stuur groete vir julle. Markus, die neef van Barnabas, stuur ook groete vir julle. Julle weet wat julle moet doen wanneer Markus daar by julle kom, julle moet vir hom sê hy is welkom. 11Jesus, sy ander naam is Justus, stuur ook groete vir julle. Hy en Aristargus en Markus is die enigste Jode wat my gehelp het om vir die mense te vertel dat God Koning is. Hulle het my baie gehelp.
12Epafras stuur ook groete vir julle. Hy het voorheen daar by julle gewoon, maar hy is nou hier by my. Hy werk ook vir Christus. Epafras bid altyd ernstig vir julle en hy vra dat God julle moet help dat julle heeltemal sal wees soos Hy wil hê en dat julle alles presies sal doen soos Hy wil hê. 13Ek sê vir julle hy het baie hard gewerk vir julle en ook vir almal wat in Christus glo en wat woon in die stede Laodisea en Hiërapolis. 14Lukas, die dokter, stuur ook groete. Ons is lief vir hom. Demas stuur ook groete. 15Ek, Paulus, stuur groete vir almal in Laodisea wat in Christus glo, en ook vir Nimfas en die gemeente wat in haar huis kerk hou. 16Wanneer julle hierdie brief van my klaar gelees het, dan moet julle dit ook vir die gemeente in Laodisea stuur sodat hulle dit ook kan lees. Ek het ook vir hulle 'n brief gestuur. Julle moet dit ook lees.
17Julle moet vir Argippus sê hy moet onthou dat die Here vir hom 'n werk gegee het om te doen. Hy moet aanhou om dit te doen.
18Hier skryf ek, Paulus, nou self: Groete vir julle! Julle moet onthou dat ek in die tronk is en julle moet dink aan my. Ek bid dat God genadig sal wees vir julle.
Tans Gekies:
Kolossense 4: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.