Deuteronomium 26

26
Die eerste vrugte
1Moses het gesê: “Wanneer jy in die land kom wat jou God die Here vir jou gee om aan jou te behoort en jy vat die land en jy gaan woon daarin, 2dan moet jy van die eerste vrugte neem wat jy gepluk het in die land wat jou God die Here vir jou gee en jy moet die vrugte in 'n mandjie sit. Jy moet gaan na die plek wat jou God die Here sal kies waar julle Hom moet aanbid. 3Jy moet gaan na die priester wat in daardie tyd daar sal wees, en jy moet vir hom sê: ‘Ek sê vandag hier waar die Here dit ook kan hoor: Die Here het vir ons voorvaders belowe dat Hy hierdie land vir ons sal gee, en ek het nou in die land gekom.’
4“Die priester moet dan die mandjie van jou neem en hy moet dit neersit voor die altaar van jou God die Here. 5Daarna moet jy begin praat, jy moet sê waar jou God die Here dit kan hoor: ‘My voorvader was 'n Arameër wat rondgeswerf het. Hy het na die land Egipte gegaan, en hy en 'n klein groepie mense was daar vreemdelinge. Maar ons het daar 'n groot en sterk volk geword, ons is nou baie mense. 6Die Egiptenaars het ons laat swaarkry en hulle het slegte dinge aan ons gedoen, hulle het ons soos slawe laat werk. 7Ons het gebid tot die Here, die God van ons voorvaders, en ons het gevra dat Hy ons moet help. Hy het ons gebed gehoor en Hy het gesien hoe hulle ons verdruk. Hy het gesien hoe sleg dit met ons gaan en hoe swaar ons kry. 8Die Here het ons toe uit Egipte gebring met sy groot krag. Hy het daardie mense baie bang laat word, Hy het tekens en wonderwerke gedoen, 9en Hy het ons gebring na hierdie plek. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. 10En kyk nou hier, ek het die eerste vrugte gebring van die land wat die Here vir my gegee het.’
“Dan moet jy die mandjie voor die Here neersit en jy moet buig voor jou God die Here. 11Daarna moet jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by julle woon, feesvier en julle moet al die goeie dinge geniet wat die Here vir jou en jou huisgesin gegee het.”
Die tiendes
12“Jy moet elke derde jaar jou tiendes gee. Wanneer jy jou tiendes klaar apart gesit het, die tiendes van jou koring-oes wat jy in daardie jaar gekry het, dan moet jy dit gee vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Hulle moet dit eet in julle stede en hulle moet genoeg kry. 13Dan moet jy daar by jou God die Here sê: ‘Ek het alles wat ek aan die Here moes wy, weggeneem uit my huis en ek het dit gegee vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Ek het gedoen wat U in al u wette gesê het. Ek was gehoorsaam aan al u wette, ek het u wette nie vergeet nie. 14Ek het nie van daardie kos geëet toe ek gerou het nie, ek het niks daarvan weggeneem toe ek onrein was nie, en ek het nie daarvan gegee vir iemand wat sterf nie. Ek het geluister na my God die Here, ek het alles gedoen wat Hy gesê het.
15“ ‘Here, U moet afkyk uit u gewyde woonplek in die hemel. U moet u volk seën en ook die land wat U vir ons gegee het. U het vir ons voorvaders belowe dat U vir ons 'n land sal gee waar daar baie melk en heuning is.’ ”
Die Israeliete sal die gewyde volk van die Here wees
16“Julle God die Here het vandag vir julle gesê dat julle moet doen wat Hy gesê het en wat Hy besluit het, julle moet dit doen met julle hele hart en lewe. 17Julle het vandag gesê dat die Here julle God sal wees. Julle het belowe dat julle sal lewe soos Hy wil hê, dat julle alles sal doen wat sy wette sê, dat julle gehoorsaam sal wees aan Hom. 18Die Here het vandag ook gesê dat julle sy volk sal wees. Hy het gesê dat julle aan Hom behoort en dat julle baie kosbaar is. Hy het ook gesê dat julle alles moet doen wat Hy sê. 19Hy sal julle belangriker maak as al die ander volke wat Hy gemaak het. Almal sal julle prys, almal sal weet van julle en hulle sal julle respekteer. Julle sal die gewyde volk van julle God die Here wees, soos Hy belowe het.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan