Deuteronomium 27

27
Gedenkstene
1Moses en die leiers het vir die volk gesê: “Julle moet alles doen wat ek vandag vir julle sê. 2Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gegaan het na die land wat julle God die Here vir julle gee, dan moet julle groot klippe regop laat staan en julle moet hulle wit verf met kalk. 3Julle moet al die woorde van hierdie wet op die klippe skryf wanneer julle oor die Jordaan-rivier gegaan het om in die land in te gaan wat julle God die Here vir julle gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Die Here, die God van julle voorvaders, het dit vir julle belowe. 4Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gegaan het, dan moet julle daardie klippe regop gaan sit op die Ebal-berg en julle moet hulle wit verf met kalk. Ek het vandag met julle oor daardie klippe gepraat.”
Die altaar op Ebal-berg
5“Julle moet daar op Ebal-berg 'n altaar bou vir julle God die Here, 'n altaar van klippe, maar julle moenie die klippe stukkend kap nie. 6Julle moet die altaar bou van heel klippe en julle moet brand-offers op die altaar offer vir julle God die Here. 7Julle moet ook ete-offers bring en julle moet daar eet en feesvier by julle God die Here. 8Julle moet al die woorde van hierdie wet baie duidelik op die klippe skryf.”
Die Leviete moet party mense vervloek
9Moses en die priesters van die nageslag van Levi het vir al die Israeliete gesê: “Israeliete, julle moet stil wees en luister! Julle het vandag die volk van julle God die Here geword. 10Daarom moet julle gehoorsaam wees aan die Here en julle moet alles doen wat Hy gesê en besluit het, alles wat ek vandag vir julle sê.”
11Moses het daardie dag vir die volk gesê: 12“Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gegaan het, dan moet party stamme op die Gerisim-berg gaan staan om die volk te seën. Hierdie stamme is: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. 13En die ander stamme moet op die Ebal-berg gaan staan om mense te vervloek. Hierdie stamme is: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali. 14Die Leviete moet dan begin praat, hulle moet hard praat en vir al die Israeliete sê: 15‘Ons vervloek elke persoon wat 'n beeld maak en wat dit dien waar niemand anders dit sien nie. Die Here haat dit. 'n Beeld is iets wat 'n ambagsman maak.’ En die hele volk moet dan sê: ‘Ja, dit sal so wees.’
16“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat nie sy pa en sy ma respekteer nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees.’
17“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat die grense van sy buurman se grond verander om vir homself meer grond te kry.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
18“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat 'n blinde mens op 'n verkeerde pad lei.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
19“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat nie reg doen aan vreemdelinge, of aan weeskinders en weduwees nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
20“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat seks het met sy pa se vrou, want hy verneder sy pa.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
21“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat seks het met 'n dier.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
22“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat seks het met sy suster, met 'n dogter van sy pa of sy ma.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
23“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat seks het met sy skoonma.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
24“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat iemand anders vermoor, ook wanneer niemand dit sien nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
25“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat geld neem en dan onskuldige mense laat sterf.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’
26“Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat nie alles doen wat hierdie wet sê nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan