Ester 3

3
Haman wil al die Judeërs doodmaak
1Later het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata 'n belangrike man gemaak. Haman was van die nageslag van Agag. Die koning het vir Haman 'n belangrike amptenaar gemaak, sy stoel het hoër gestaan as die ander amptenare se stoele. 2Die koning het gesê al die amptenare in die paleis moet voor Haman buig en hulle moet op die grond gaan lê voor hom. Maar Mordegai het dit nie gedoen nie. 3Die ander amptenare in die paleis het vir Mordegai gevra: “Hoekom doen jy nie wat die koning gesê het nie?”
4Hulle het elke dag met Mordegai daaroor gepraat. Mordegai het vir hulle gesê dat hy nie wil buig nie omdat hy 'n Judeër is. Toe Mordegai nie wou luister nie, het hulle dit vir Haman vertel, hulle wou sien of Mordegai sal aanhou om nie te buig nie. 5Haman het baie kwaad geword toe hy hoor dat Mordegai nie voor hom wil buig nie en dat hy nie op die grond wil gaan lê nie. 6Maar Haman het gedink dit is nie genoeg om net vir Mordegai te straf nie. Haman het gehoor aan watter volk Mordegai behoort, hy het gehoor dat Mordegai 'n Judeër is. Toe het Haman planne gemaak om al die Judeërs dood te maak in al die lande waaroor Ahasveros regeer het. 7Haman het gesê sy mense moet die “pur” gooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Hy het dit gedoen in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde jaar nadat Ahasveros koning geword het. Hy wou weet op watter dag en in watter maand hy die Judeërs moet laat doodmaak. Die lootjies het gewys die twaalfde maand, die maand Adar. 8Toe het Haman vir koning Ahasveros gesê: “Daar is 'n volk wat oral tussen ander volke woon in al die provinsies waaroor jy regeer. Daardie volk het ander wette as die ander volke en hulle is nie gehoorsaam aan die wette van die koning nie. Die koning mag hulle nie los nie, hulle mag nie aanhou doen wat hulle doen nie. 9Koning, as jy dink dit is reg, dan moet jy 'n wet maak om die Judeërs almal dood te maak. Dan sal ek 10 000 talente silwer gee wat jou amptenare by jou ander geld kan bêre.”
10Die koning het sy seël afgehaal en hy het dit vir Haman seun van Hammedata gegee. Haman was van die nageslag van Agag en hy was die vyand van die Judeërs. 11Die koning het vir Haman gesê: “Jy mag die silwer hou, en jy mag met daardie volk doen wat jy wil.”
12Haman het die koning se sekretarisse laat roep op die dertiende dag van die eerste maand. Hy het gesê hulle moet briewe skryf vir die hoof-amptenare van die koning en vir die goewerneurs van elke provinsie en vir die amptenare van elke volk. Hulle het die briewe geskryf en hulle het die skrif van elke provinsie en die taal van elke volk gebruik. Hulle het geskryf wat Haman gesê het. Hulle het geskryf dat die briewe van koning Ahasveros kom en hulle het die seël van die koning op die briewe gesit. 13Vinnige boodskappers het die briewe geneem na elke provinsie van die koning. In die briewe was geskryf dat die mense al die Judeërs moet doodmaak, al die jongmense en die oumense, al die kinders en die vroue. Die koning het ook gesê dat die mense al die Judeërs se goed moet vat. Dit moes gebeur op een dag, op die dertiende dag van die twaalfde maand, dit is die maand Adar. 14Die koning het dit besluit en dit moes 'n wet word in elke provinsie. Al die mense moes daarvan weet, sodat hulle gereed kon wees op daardie dag. 15Die koning het gesê die boodskappers moet gou maak, en hulle het dit gedoen. Toe die mense in die stad Susan hoor wat die koning besluit het, was hulle baie geskok en ontsteld. Maar die koning en Haman het gaan sit en hulle het wyn gedrink.

Tans Gekies:

Ester 3: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan