Dit is die Here wat praat,
die Koning van Israel
wat hulle vrymaak,
die Here wat oor alles regeer.
Hy sê: “Ek was altyd God
en Ek sal altyd God wees,
daar is nie 'n ander God nie.
Wie is soos Ek?
As daar 'n ander God is,
dan moet hy praat.
Hy moet vir My sê wat het gebeur
vandat Ek lank gelede
my volk gemaak het,
en Hy moet sê wat nog sal gebeur.
Julle moenie skrik nie,
julle moenie bang wees nie,
Ek het dit lank gelede vir julle gesê,
en julle weet Ek is God.
Is daar 'n ander God?
Nee, daar is nie een nie,
nie een wat kan doen wat hy sê nie.
Ek weet daar is nie 'n ander God nie.”
“Al die mense wat beelde maak,
is self niks.
Hulle is lief vir die beelde,
maar die beelde beteken niks.
Hulle sê die beelde is gode,
maar hulle sal teleurgesteld wees,
want die beelde kan nie sien nie
en hulle weet niks.
Wie maak 'n god, 'n beeld
wat niks beteken nie?
Wie is so dom?
Almal wat so 'n god aanbid,
sal teleurgesteld wees.
Dit is mense wat die god gemaak het,
en dan kom hulle bymekaar
en wag dat die god iets moet sê,
maar hulle hoor niks en hulle is teleurgesteld.
Die man wat met yster kan werk,
maak die yster warm in die vuur
en hy slaan die yster met 'n hamer
en hy maak 'n beeld met sy sterk hande.
Hy word ook honger en moeg en baie dors.
Die man wat met hout kan werk,
meet die hout en hy teken die beeld.
Hy kap en meet totdat die beeld soos 'n mens lyk,
'n mooi mens,
en dan sit hy die beeld in 'n tempel.
Die man kap 'n sederboom af,
of hy kies 'n ander boom
en hy wag totdat die boom groot word
tussen die ander bome in die bos,
of hy plant 'n boom,
en die boom word groot as dit reën.
Hy maak vuur met die hout
en hy maak hom warm,
maar hy bak ook brood
en hy maak 'n god
en hy buig voor die god.
Hy maak vuur met party van die hout,
en dan braai hy vleis en eet
totdat hy genoeg geëet het.
Hy maak hom warm en hy sê:
‘Ek het lekker warm geword,
die vuur het lig gemaak,
en ek kon sien.’
Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god.
Hy buig voor die beeld en hy bid tot die beeld
en sê: ‘Red my, want jy is my god.’
Mense wat dit doen, is baie dom.
Hulle oë is toe en hulle weet nie
wat hulle doen nie.
Hulle is baie dom,
hulle het nie gedink dat hulle
vuur gemaak het met party van die hout
en brood gebak het op die kole
en vleis gebraai en geëet het,
en dat hulle 'n afgod gemaak het
van die hout wat oorgebly het,
en dat hulle nou buig voor 'n droë stuk hout nie.
Iemand wat dit doen, kul homself,
hy kan homself nie red nie.
Hy besef nie
dat die god wat hy van hout gemaak het,
kan verbrand nie, dit beteken niks.