So sê die Here, die Koning van Israel,
sy Verlosser, die Here die Almagtige:
Ek is die eerste en Ek is die laaste,
buiten My is daar geen God nie.
Wie soos Ek is, laat hom dit sê,
laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;
laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het
vandat Ek my volk lank gelede gemaak het
en ook van wat sal gebeur;
laat hy vertel van die dinge wat kom.
Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!
Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig,
dit vir julle gesê nie?
Julle is my getuies: is daar 'n God buiten My?
Daar is geen ander Rots nie;
Ek weet van geeneen nie.
Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks;
die dierbare gode van hulle kan nie help nie.
Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie,
kan nie verstaan nie;
dié wat sulke gode het, word teleurgestel.
Wie maak nou 'n god, giet 'n beeld
wat nie kan help nie!
Almal wat so 'n god aanhang, word teleurgestel:
dit is gode wat deur mense gemaak is.
Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir 'n beslissing,
staan hulle verbyster en verleë.
Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap
en werskaf in die gloeiende kole.
Met hamers vorm hy die beeld,
met sy gespierde arm maak hy die beeld:
die smid eet nie en word swak,
hy drink nie water nie en raak uitgeput.
Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn
en merk die beeld se buitelyne af.
Hy bewerk hom met beitels
en trek sy mate met 'n passer af.
Hy maak hom in die vorm van 'n mens,
'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon.
Die ambagsman kap vir hom seders af,
of hy kies sipresse of eike
en laat hulle groot word in die bos,
of hy plant 'n lourierboom,
en die reën laat dit groot word.
Dit dien as vuurmaakhout vir die mens;
iemand vat daarvan en maak hom warm,
of hy maak 'n vuur om brood te bak,
of hy maak 'n god en aanbid dit,
hy maak 'n beeld en buig daarvoor.
'n Deel van die hout verbrand hy:
hy maak kos daarmee gaar,
hy braai vleis en eet tot hy genoeg het;
hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker!
Ek is warm, ek geniet die vuur!”
Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld,
hy buig voor hom en aanbid hom,
hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!”
Sulke mense weet nie wat hulle doen nie,
hulle het nie insig nie,
hulle oë is toegepleister, hulle sien nie,
niks dring tot hulle verstand deur nie.
Hulle kom nie tot besinning nie,
hulle het te min kennis en verstand om te sê:
“'n Gedeelte van die hout het ek verbrand,
ek het op die kole kos gaar gemaak,
ek het vleis gebraai en geëet,
en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak,
moet ek voor 'n stuk hout buig?”
Iemand wat hom met as besig hou,
laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings.
Hy kan homself nie red nie,
hy vra homself nie af:
“Is dit nie 'n leuen waarmee ek my besig hou nie?”