Rigters 5:1-9

Rigters 5:1-9 ABA

Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam hierdie lied gesing: “Manne in die land Israel het gereedgemaak vir die oorlog. Niemand het gesê dat hulle moet kom nie, hulle het self gekom. Prys die Here. Konings en almal wat belangrik is, julle moet luister. Ek wil vir die Here sing, ek wil musiek maak vir die Here, die God van Israel. Here, die aarde het geskud, en daar het water gedrup uit die wolke in die lug toe U uit die land Seïr gekom het, toe U gekom het uit die veld van Edom. Ja, die berge het gebewe voor die Here wat van Sinai-berg kom, die berge het gebewe voor die God van Israel. “In die tyd toe Samgar seun van Anat gelewe het, in die tyd van Jael, was dit te gevaarlik om op die paaie te loop, mense moes deur die veld loop. Niemand in die land Israel kon buite die stede woon nie totdat ek, Debora, gekom het om 'n ma te wees vir Israel. Die volk het ander gode gekies, en die oorlog het begin in die stede. Maar nie een van Israel se duisende soldate het 'n skild en 'n spies gevat om te veg nie. Ek is bly oor die leiers van Israel en die mense wat self besluit het om te kom. Prys die Here!