Jeremia 13

13
Die linne-skort wat gevrot het, en die wynkruike wat sal stukkend breek
1Die Here het vir my gesê: “Jy moet vir jou 'n linne-skort gaan koop en dit aantrek, maar jy moet dit nie nat laat word nie.”
2Ek het gedoen wat die Here gesê het, ek het die linne-skort gekoop en ek het dit aangetrek. 3Toe sê die Here vir my: 4“Vat die linne-skort wat jy gekoop het en wat jy aangetrek het en gaan na die Fara-vallei. Steek die linne-skort daar weg tussen die rotse.”
5Ek het toe gedoen wat die Here gesê het. Ek het gegaan en ek het die linne-skort in die Fara-vallei weggesteek. 6Ná 'n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan na die Fara-vallei en gaan haal die linne-skort wat Ek vir jou gesê het om daar weg te steek.”
7Ek het na die Fara-vallei gegaan en ek het gegrawe en die linne-skort uitgehaal uit die plek waar ek dit weggesteek het. Ek het gesien dit is vrot, 'n mens kan dit nie meer gebruik nie. 8Toe hoor ek die Here praat met my. 9Hy het gesê: “Die mense van Juda en van die groot stad Jerusalem is trots op baie dinge, maar Ek sal al die dinge vrot laat word, soos die linne-skort. 10Hierdie slegte volk wil nie gehoorsaam wees aan My nie, hulle is hardkoppig, hulle doen net wat hulle wil, hulle dien ander gode en buig voor die gode. Hulle het geword soos hierdie linne-skort wat 'n mens nie kan gebruik nie. 11'n Mens maak 'n linne-skort vas om sy heupe. Net so het Ek die hele volk Israel en die hele volk Juda aan My vasgemaak. Ek wou hê hulle moes my volk wees en Ek wou trots wees op hulle, maar hulle was ongehoorsaam. 12Jy moet nou vir hulle sê: Die Here, die God van Israel, sê elke wynkruik moet vol wyn wees. Hulle sal vir jou sê hulle weet dat elke wynkruik vol wyn moet wees. 13Dan moet jy vir hulle sê die Here sê: Ek sal almal in die land vol wyn maak sodat hulle dronk word, ook die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en profete en almal wat in Jerusalem woon. 14Dan sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, pa's saam met kinders. Ek sal vir niemand jammer wees nie, Ek sal hulle almal laat sterf.”
Dit het die Here gesê.
Die mense van Jerusalem sal nie weer rein kan word nie
15Julle moet gehoorsaam wees en luister,
julle moenie hoogmoedig wees nie,
want die Here praat.
16Julle moet julle God die Here eer
voordat Hy dit donker laat word,
voordat julle miskien julle tone stamp
teen die berge waar dit altyd donker is.
Julle sal wag dat dit lig moet word,
maar die Here sal dit donkerder en donkerder
laat word.
17As julle hoogmoedig is en nie luister nie,
dan sal ek alleen gaan staan en aanhou huil.
Baie trane sal uit my oë kom omdat vyande
die volk van die Here gevang en weggevat het.
18Iemand moet vir die koning en sy ma sê
hulle moet afklim van hulle trone en op die grond gaan sit,
want hulle sal nie meer mooi krone op hulle koppe dra nie.
19Die vyande is rondom die stede van die Suid-land,
niemand kan die mense laat uitkom nie.
Die vyande het al die mense van Juda gevang
en almal weggevat.
20Mense van Jerusalem, julle moet kyk,
julle sal sien dat die vyande
uit die noorde kom.
Waar is die mense van Juda nou?
Julle moes die mense oppas
soos 'n herder sy trop mooi skape en bokke oppas.
Waar is daardie mense nou?
21Wat sal julle sê wanneer die vyande
mense kies en aanstel oor julle?
Julle het self vir die mense geleer,
wat sal julle sê as hulle nou oor júlle regeer?
Julle sal skielik pyne kry soos 'n vrou
wat 'n baba kry.
22Julle vra vir julleself
hoekom dit met julle gebeur het.
Dit is omdat julle baie sonde gedoen het.
Julle is soos vroue,
die vyande tel hulle rokke op
en verkrag hulle.
23'n Kussiet is swart en 'n luiperd het kolle,
hulle kan dit nie verander nie.
Net so kan julle nie verander nie,
julle kan nie goed doen nie,
want julle het te lank verkeerde dinge gedoen.
24Ek sal julle na al die kante toe jaag.
Dit sal wees soos wanneer die woestynwind
kaf wegwaai.
25Dit sal met julle gebeur,
dit is wat Ek met julle sal doen,
want julle het My vergeet.
Julle het gedink
dinge wat niks beteken nie, sal julle help.
26-27Julle het afgode gedien op die heuwels in die veld.
Ek het gesien watter slegte dinge julle gedoen het.
Julle was soos vroue wat egbreuk gepleeg het
en prostitute geword het.
Daarom sal Ek julle straf soos 'n mens hierdie vroue straf,
Ek sal julle kaal uittrek sodat almal kan weet julle is sleg.
Mense van Jerusalem, dit sal sleg gaan met julle.
Julle sal nie weer rein kan word nie.
Hoe lank sal julle so aanhou?

Tans Gekies:

Jeremia 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan