Jeremia 27

27
Die volke moet die koning van Babel dien
1Die Here het met my, Jeremia, gepraat. Dit was kort nadat Sedekia seun van Josia koning van Juda geword het. 2Die Here het vir my gesê: “Jy moet vir jou jukke maak en bande, en jy moet een juk op jou nek vasmaak.
3“Dan moet jy die ander jukke stuur na die konings van die land Moab, na die Ammoniete, en na die stede Tirus en Sidon. Jy moet dit stuur saam met die boodskappers wat na Jerusalem gekom het, na koning Sedekia van Juda toe.
4“Jy moet vir hulle sê hulle moet vir hulle konings sê: Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: 5Dit is Ek wat die aarde gemaak het, en ook die mense en die diere wat op die aarde is. Ek het dit gedoen met my eie groot krag, en Ek gee dit vir wie Ek wil. 6En nou, Ek het al hierdie lande vir my dienaar gegee, vir Nebukadnesar koning van Babel, en Ek het ook die wilde diere vir hom gegee om vir hom te werk.
7“Al die volke sal vir Nebukadnesar moet werk, en ook vir sy seun en vir sy kleinseun. Hulle sal dit doen totdat die tyd kom wanneer die mense van sy eie land Babel vir baie ander volke en groot konings sal moet werk. 8Maar Ek sal die volk en die land straf wat nie vir Nebukadnesar koning van Babel wil dien en wat nie sy juk wil dra nie. Ek sal daardie volk straf met oorlog en honger en pes.
“Ek sal aanhou totdat Nebukadnesar hulle almal doodgemaak het. 9En julle, julle moenie luister na julle profete en waarsêers nie, moenie luister na die mense wat sê hulle weet wat drome en tekens beteken en wat sê dat hulle kan toor nie. Hulle sê julle moenie die koning van Babel dien nie, 10maar hulle bring boodskappe wat vals is. As julle na hulle luister, dan sal Ek julle wegvat ver van julle grond af, Ek sal julle wegjaag na al die kante toe, en julle sal sterf. 11Maar Ek sal die volk wat die juk van die koning van Babel dra en hom dien, op hulle grond laat bly. Hulle sal in die grond werk en daar woon.”
12Ek, Jeremia, het toe eers al hierdie dinge vir Sedekia koning van Juda gaan sê. Ek het gesê: “Julle moet die juk van die koning van Babel dra en julle moet hom dien. Dan sal julle aanhou lewe. 13Hoekom wil jy en jou mense sterf van oorlog en honger en pes? Die Here het gesê dit sal gebeur met 'n volk wat nie die koning van Babel dien nie. 14Julle moenie luister na die profete wat vir julle sê julle moenie die koning van Babel dien nie, want daardie profete bring vir julle boodskappe wat vals is. 15Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie, maar hulle sê hulle bring boodskappe van My. Dit is boodskappe wat vals is. As julle daarna luister, dan sal Ek julle wegjaag na al die kante toe en Ek sal julle almal laat sterf, julle en die profete wat vir julle boodskappe bring.”
16Daarna het ek, Jeremia, met die priesters en al hierdie mense gepraat en vir hulle gesê: “Die Here sê: Julle moenie luister na julle profete wat vir julle boodskappe bring en sê die tempel-gereedskap sal gou terugkom uit Babel nie, want daardie profete bring boodskappe wat vals is. 17Julle moenie na hulle luister nie, julle moet die koning van Babel dien. Dan sal julle aanhou lewe. Hoekom moet hierdie stad 'n hoop klippe word?
18“As daardie mense regtig profete is, as die Here regtig met hulle praat, dan moet hulle aanhou bid tot die Here wat oor alles regeer. Hulle moet vra dat die vyande nie die goed na Babel sal vat nie, die goed wat nog oor is in die tempel en in die paleis.
19“Want die Here wat oor alles regeer, praat ook oor die pilare en oor die groot waterbak en die waentjies wat nog by die tempel is en oor alles wat nog oorgebly het in die stad. 20Koning Nebukadnesar het nie hierdie goed gevat toe hy vir koning Jojagin seun van Jojakim, koning van Juda, na Babel weggevat het saam met al die belangrike mense van Juda en Jerusalem nie. 21Maar nou praat die Here wat oor alles regeer, die God van Israel. Hy praat oor die goed wat nog oorgebly het in die tempel en in die paleis van die koning van Juda en Jerusalem. Die Here sê: 22Die vyande sal dit wegvat na Babel, en dit sal daar bly totdat Ek besluit dat dit moet terugkom na hierdie plek.”

Tans Gekies:

Jeremia 27: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan