Johannes 12:1-11

Johannes 12:1-11 ABA

Ses dae voor die Paasfees het Jesus na Betanië gegaan. Betanië was die plek waar Lasarus gewoon het. Jesus het voorheen vir Lasarus weer laat lewe nadat Lasarus gesterf het. Die mense het vir Jesus 'n ete gemaak. Marta het die kos bedien en Lasarus was een van die mense wat saam met Jesus geëet het. Maria het 'n halwe liter lekkerruik-olie gebring. Die olie was baie duur, want dit was regte nardus-olie. Maria het die olie op Jesus se voete gegooi en sy het toe Jesus se voete afgedroog met haar hare. Die hele huis het lekker geruik. Judas Iskariot was een van Jesus se dissipels. Hy was die dissipel wat later vir Jesus verraai het. Hy het gesê: “Maria het nou hierdie duur olie gemors. Ons kon dit verkoop het vir 300 silwer geldstukke en dan kon ons die geld vir die arm mense gegee het.” Maar Judas was nie regtig bekommerd oor die arm mense nie. Hy was 'n dief. Hy het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was en hy het baie maal van die geld gesteel. Jesus het gesê: “Nee, Judas, los vir Maria! Sy het die olie gebêre om My nou te salf soos die mense My sal salf wanneer hulle My begrawe. Die arm mense sal altyd by julle wees, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.” Baie Jode het gehoor dat Jesus in die dorpie Betanië is. Hulle het toe na Betanië gegaan. Hulle wou vir Jesus sien, maar hulle wou ook graag vir Lasarus sien. Dit is Lasarus wat dood was, maar Jesus het hom weer laat lewe. Die priesterleiers het besluit om Lasarus ook dood te maak, want baie van die Jode het gehoor dat Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Hulle het nie meer soos die ander Jode gedink nie.

Video vir Johannes 12:1-11