JOHANNES 12:1-11

JOHANNES 12:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Ses dae voor die Paasfees het Jesus na Betanië gegaan. Betanië was die plek waar Lasarus gewoon het. Jesus het voorheen vir Lasarus weer laat lewe nadat Lasarus gesterf het. Die mense het vir Jesus 'n ete gemaak. Marta het die kos bedien en Lasarus was een van die mense wat saam met Jesus geëet het. Maria het 'n halwe liter lekkerruik-olie gebring. Die olie was baie duur, want dit was regte nardus-olie. Maria het die olie op Jesus se voete gegooi en sy het toe Jesus se voete afgedroog met haar hare. Die hele huis het lekker geruik. Judas Iskariot was een van Jesus se dissipels. Hy was die dissipel wat later vir Jesus verraai het. Hy het gesê: “Maria het nou hierdie duur olie gemors. Ons kon dit verkoop het vir 300 silwer geldstukke en dan kon ons die geld vir die arm mense gegee het.” Maar Judas was nie regtig bekommerd oor die arm mense nie. Hy was 'n dief. Hy het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was en hy het baie maal van die geld gesteel. Jesus het gesê: “Nee, Judas, los vir Maria! Sy het die olie gebêre om My nou te salf soos die mense My sal salf wanneer hulle My begrawe. Die arm mense sal altyd by julle wees, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.” Baie Jode het gehoor dat Jesus in die dorpie Betanië is. Hulle het toe na Betanië gegaan. Hulle wou vir Jesus sien, maar hulle wou ook graag vir Lasarus sien. Dit is Lasarus wat dood was, maar Jesus het hom weer laat lewe. Die priesterleiers het besluit om Lasarus ook dood te maak, want baie van die Jode het gehoor dat Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Hulle het nie meer soos die ander Jode gedink nie.

JOHANNES 12:1-11 Die Boodskap (DB)

Ses dae voor die paasfees kom Jesus weer in Betanië aan, waar Lasarus-hulle gebly het. Die mense daar het ’n spesiale ete vir Jesus gereël. Marta het hulle bedien en gesorg dat hulle genoeg het om te eet. Lasarus het saamgeëet. Maria bring toe ’n houer met duur olie wat van nardus gemaak is daar aan. Dit het soet en baie lekker geruik en is as ’n soort parfuum gebruik. Sy gooi toe sommer heelwat van die lekker olie oor Jesus se voete uit. Daarna vee sy die oortollige olie met haar hare van sy voete af. Die hele huis het lekker geruik van die heerlike olie. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.” Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp. “Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.” Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef. Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom en Jesus begin volg het.