Daar was ook Grieke wat gekom het om God op die Paasfees te aanbid. Die Grieke het na Filippus toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus sien.”
Filippus het van die stad Betsaida in die provinsie Galilea gekom. Filippus het na Andreas toe gegaan en hy het vir Andreas gesê die Grieke wil vir Jesus sien. Andreas en Filippus het gegaan en hulle het vir Jesus gesê die Grieke wil Hom sien. Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer 'n mens 'n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie. As iemand dink sy eie lewe is baie belangrik, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand besef dat sy lewe op aarde nie belangrik is nie, dan sal hy sy lewe hou, hy sal altyd aanhou lewe. Almal wat My dien, moet doen wat Ek doen, en hulle moet aanhou om die dinge te doen wat Ek doen. My Vader sal sê almal wat My dien, is belangrik.”
Jesus het gesê: “Ek is nou baie bekommerd en ontsteld. Wat moet Ek vir my Vader vra? Moet Ek vir Hom vra dat my tyd van swaarkry nie sal kom nie? Nee, Ek het na die wêreld gekom om swaar te kry.”
Jesus het gebid en gesê: “Vader, wys dat U God is!”
Toe het God uit die hemel gesê: “Ek het gewys dat Ek God is en Ek sal dit weer doen.”
Die mense wat daar was, het dit gehoor. Party het gesê: “Ons hoor donderweer,” en ander mense het gesê: “'n Engel het met Jesus gepraat.”
Jesus het vir hulle gesê: “God het uit die hemel gepraat, nie sodat Ék sy stem kan hoor nie, maar sodat júlle sy stem kan hoor. Nou sal God die mense van die wêreld oordeel. Nou sal Hy die Satan, die leier van die mense van hierdie wêreld, oorwin. Wanneer Ek hoog bo die grond is, dan sal Ek almal nader trek na My toe.”
Toe Jesus gesê het Hy sal hoog bo die grond wees, het dit beteken Hy sal aan 'n kruis hang. Die mense het vir Jesus gesê: “Ons het in die Ou Testament gelees dat die Christus vir altyd op die aarde sal bly, maar jy sê die Seun van die mens sal hoog bo die grond wees. Wie is die Seun van die mens? Van wie praat jy?”
Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die Lig. Die Lig sal nog net 'n kort tydjie by julle wees. Wanneer dit lig is, moet julle aanhou werk. Dan, wanneer dit donker word, sal julle nie skrik nie. Wanneer 'n mens in die donker werk, weet hy nie wat hy doen nie. Ek is die Lig en Ek is nou hier by julle. Julle moet in My glo, dan sal julle kinders van die lig wees.”
Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy weggegaan, en hulle kon Hom nie kry nie.
Die mense het baie wondertekens gesien wat Jesus gedoen het, maar hulle het nie in Jesus geglo nie. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het:
Here, niemand het geluister
na wat ons sê nie,
niemand het besef hoe sterk
die Here is nie.
Jesaja het ook gesê hoekom hulle nie kon glo nie. Hy het gesê:
God het die mense se oë
blind gemaak,
Hy het hulle harte hard gemaak.
Daarom kon hulle oë nie sien nie,
en hulle harte kon nie verstaan nie,
en hulle het nie begin lewe
soos God wil hê nie.
Daarom sal Ek hulle nie
gesond maak nie, sê God.
Jesaja het dit alles gesê, want hy het gesien Jesus is God. Hy het van Jesus gepraat. Baie mense het in Jesus geglo, ook party van die leiers, maar hulle het dit vir niemand vertel nie. Hulle was bang dat die Fariseërs sal sê hulle mag nooit weer in die sinagoge kom nie. Daardie leiers wou meer belangrik wees vir mense as vir God.
Jesus het hard gesê: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, hy glo ook in God wat My na die wêreld gestuur het. Ja, as iemand My sien, dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het. Ek het gekom om 'n lig vir die mense van die wêreld te wees. Daarom sal elkeen wat in My glo, nie meer in die donker lewe nie. Ek het nie gekom om die mense van die wêreld te oordeel nie. Ek het gekom om hulle te red. Daarom, wanneer mense hoor wat Ek sê, maar hulle doen nie wat Ek sê nie, sal Ék hulle nie oordeel nie, die woorde wat Ek gesê het, sal hulle oordeel op die laaste dag. Hulle glo nie in My nie en hulle luister nie na wat Ek sê nie. Die dinge wat Ek gesê het, kom nie van My nie. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, het vir My gesê presies wat Ek moet sê. Ek weet die dinge wat die Vader vir My gesê het om te doen, laat mense vir altyd lewe. Daarom sê Ek wat die Vader vir My gesê het.”