JOHANNES 12:20-50
JOHANNES 12:20-50 Bybel vir almal (ABA)
Daar was ook Grieke wat gekom het om God op die Paasfees te aanbid. Die Grieke het na Filippus toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus sien.” Filippus het van die stad Betsaida in die provinsie Galilea gekom. Filippus het na Andreas toe gegaan en hy het vir Andreas gesê die Grieke wil vir Jesus sien. Andreas en Filippus het gegaan en hulle het vir Jesus gesê die Grieke wil Hom sien. Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer 'n mens 'n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie. As iemand dink sy eie lewe is baie belangrik, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand besef dat sy lewe op aarde nie belangrik is nie, dan sal hy sy lewe hou, hy sal altyd aanhou lewe. Almal wat My dien, moet doen wat Ek doen, en hulle moet aanhou om die dinge te doen wat Ek doen. My Vader sal sê almal wat My dien, is belangrik.” Jesus het gesê: “Ek is nou baie bekommerd en ontsteld. Wat moet Ek vir my Vader vra? Moet Ek vir Hom vra dat my tyd van swaarkry nie sal kom nie? Nee, Ek het na die wêreld gekom om swaar te kry.” Jesus het gebid en gesê: “Vader, wys dat U God is!” Toe het God uit die hemel gesê: “Ek het gewys dat Ek God is en Ek sal dit weer doen.” Die mense wat daar was, het dit gehoor. Party het gesê: “Ons hoor donderweer,” en ander mense het gesê: “'n Engel het met Jesus gepraat.” Jesus het vir hulle gesê: “God het uit die hemel gepraat, nie sodat Ék sy stem kan hoor nie, maar sodat júlle sy stem kan hoor. Nou sal God die mense van die wêreld oordeel. Nou sal Hy die Satan, die leier van die mense van hierdie wêreld, oorwin. Wanneer Ek hoog bo die grond is, dan sal Ek almal nader trek na My toe.” Toe Jesus gesê het Hy sal hoog bo die grond wees, het dit beteken Hy sal aan 'n kruis hang. Die mense het vir Jesus gesê: “Ons het in die Ou Testament gelees dat die Christus vir altyd op die aarde sal bly, maar jy sê die Seun van die mens sal hoog bo die grond wees. Wie is die Seun van die mens? Van wie praat jy?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die Lig. Die Lig sal nog net 'n kort tydjie by julle wees. Wanneer dit lig is, moet julle aanhou werk. Dan, wanneer dit donker word, sal julle nie skrik nie. Wanneer 'n mens in die donker werk, weet hy nie wat hy doen nie. Ek is die Lig en Ek is nou hier by julle. Julle moet in My glo, dan sal julle kinders van die lig wees.” Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy weggegaan, en hulle kon Hom nie kry nie. Die mense het baie wondertekens gesien wat Jesus gedoen het, maar hulle het nie in Jesus geglo nie. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: Here, niemand het geluister na wat ons sê nie, niemand het besef hoe sterk die Here is nie. Jesaja het ook gesê hoekom hulle nie kon glo nie. Hy het gesê: God het die mense se oë blind gemaak, Hy het hulle harte hard gemaak. Daarom kon hulle oë nie sien nie, en hulle harte kon nie verstaan nie, en hulle het nie begin lewe soos God wil hê nie. Daarom sal Ek hulle nie gesond maak nie, sê God. Jesaja het dit alles gesê, want hy het gesien Jesus is God. Hy het van Jesus gepraat. Baie mense het in Jesus geglo, ook party van die leiers, maar hulle het dit vir niemand vertel nie. Hulle was bang dat die Fariseërs sal sê hulle mag nooit weer in die sinagoge kom nie. Daardie leiers wou meer belangrik wees vir mense as vir God. Jesus het hard gesê: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, hy glo ook in God wat My na die wêreld gestuur het. Ja, as iemand My sien, dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het. Ek het gekom om 'n lig vir die mense van die wêreld te wees. Daarom sal elkeen wat in My glo, nie meer in die donker lewe nie. Ek het nie gekom om die mense van die wêreld te oordeel nie. Ek het gekom om hulle te red. Daarom, wanneer mense hoor wat Ek sê, maar hulle doen nie wat Ek sê nie, sal Ék hulle nie oordeel nie, die woorde wat Ek gesê het, sal hulle oordeel op die laaste dag. Hulle glo nie in My nie en hulle luister nie na wat Ek sê nie. Die dinge wat Ek gesê het, kom nie van My nie. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, het vir My gesê presies wat Ek moet sê. Ek weet die dinge wat die Vader vir My gesê het om te doen, laat mense vir altyd lewe. Daarom sê Ek wat die Vader vir My gesê het.”
JOHANNES 12:20-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid; hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus. Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer. Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom. Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe. Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens? En Jesus sê vir hulle: Nog 'n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie. So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg. En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het. Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God. En Jesus het uitgeroep en gesê: Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het. Ek het as 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red. Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag. Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My 'n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek — net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.
JOHANNES 12:20-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.” Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe. Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?” Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou. Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?” Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders: “God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.” Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het. Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God. Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”
JOHANNES 12:20-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien. ” Filippus het dit toe vir Andreas gaan vertel, en toe gaan sê Andreas en Filippus dit weer vir Jesus. Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die •Seun van die Mens verheerlik moet word. Amen, amen, Ek sê vir julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. “Nou is my siel ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom! Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf. Die skare het Hom toe geantwoord: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus vir ewig bly, en hoe sê u dat die •Seun van die Mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die Mens?” Jesus het toe vir hulle gesê: “Nog 'n kort tydjie is die lig by julle. Terwyl julle die lig het, leef daarvolgens, sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis leef, weet nie waarheen hy gaan nie. Terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees. ” Toe Jesus dit gesê het, het Hy weggegaan en Hom van hulle onttrek. Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie, sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word: “Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar?” Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: “Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai, en Ek hulle genees nie.” Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. Nogtans het ook baie van hulle leiers in Hom begin glo, maar vanweë die •Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die •sinagoge geban sou word nie. Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. Jesus het uitgeroep en gesê: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het! En wie My sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het as 'n lig na die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. En as iemand my woorde hoor en dit nie bewaar nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het immers nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het self vir My 'n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek moet verkondig. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe is. Wat Ek dus sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het. ”
JOHANNES 12:20-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was sekere Grieke onder hulle wat opgekom het om op die fees te aanbid. Hy het toe na Filippus gekom, wat van Betsaida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: Meneer, ons wil Jesus sien. Filippus het gekom en dit vir Andreas vertel; en weer het Andreas en Filippus dit vir Jesus vertel. En Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit baie vrugte. Hy wat sy lewe liefhet, sal dit verloor; en hy wat sy lewe in hierdie wêreld haat, sal dit bewaar tot die ewige lewe. As iemand My dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; as iemand My dien, hom sal my Vader eer. Nou is my siel ontsteld; en wat sal ek sê? Vader, red my uit hierdie uur, maar daarom het ek tot hierdie uur gekom. Vader, verheerlik u Naam. Toe kom daar 'n stem uit die hemel wat sê: Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik. En die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat dit gedonder het; ander het gesê: 'n Engel het met hom gespreek. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie gekom om my ontwil nie, maar om julle ontwil. Nou is die oordeel van hierdie wêreld: nou sal die owerste van hierdie wêreld verdryf word. En ek, as ek van die aarde af verhoog word, sal alle mense na my toe trek. Dit het hy gesê om aan te dui watter dood hy sou sterwe. Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat Christus vir ewig bly; en hoe sê jy: Die Seun van die mens moet verhoog word? wie is hierdie Seun van die mens? Toe sê Jesus vir hulle: Nog 'n klein tydjie is die lig by julle. Wandel terwyl julle die lig het, sodat die duisternis nie oor julle kom nie; want hy wat in die duisternis wandel, weet nie waarheen hy gaan nie. Terwyl julle lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees. Hierdie dinge het Jesus gespreek en weggegaan en hom vir hulle verberg. Maar al het Hy soveel wonders voor hulle gedoen, tog het hulle nie in Hom geglo nie. Sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gespreek het: Here, wie het ons gerug geglo? en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja weer gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard; dat hulle nie met hul oë sou sien en nie met hul hart sou verstaan nie, en hulle sou bekeer, en Ek hulle sou genees. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid sien en van Hom gespreek het. Maar onder die owerstes het ook baie in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle Hom nie bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Want hulle het die lof van mense meer liefgehad as die lof van God. Jesus het uitgeroep en gesê: Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. En hy wat My sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sal bly nie. En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red. Hy wat My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel op die laaste dag. Want ek het nie uit myself gepraat nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My 'n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is; alles wat Ek dan ook al spreek, net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.
JOHANNES 12:20-50 Die Boodskap (DB)
Onder al die Jode was daar ook ’n klompie Grieke in Jerusalem. Hulle het spesiaal vir die fees gekom. Hulle loop toe vir Filippus (die een wat van Betanië in Galilea af kom) raak en vra vir hom: “Meneer, kan ons asseblief ’n bietjie met Jesus praat?” Filippus praat toe met Andreas daaroor en hulle is toe saam na Jesus toe. Jesus sê toe vir hulle: “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle sal sien hoe belangrik Ek regtig is. Laat Ek dit vir julle so verduidelik: ’n koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit doodgaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels. ’n Selfsugtige mens wat niks vir ander voel nie omdat hy net heeltyd aan homself dink, is op die verloorpad. Hy gaan uiteindelik niks oorhou nie, nie eens sy eie lewe nie. “Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen, omdat God sal sorg dat hulle geestelik vir altyd sal leef. “Iemand wat My wil dien, moet dus bereid wees om my voorbeeld te volg. Hy moet in enige situasie presies doen wat Ek sou doen; ja, in hierdie lewe moet hy aan die werk wees op plekke waar Ek graag sou wou werk. God self sal iemand wat dít doen, prys. “Op die oomblik is my gemoed beswaard. Ek weet nie mooi wat om te bid nie. Sal Ek bid: ‘Vader, maak ’n ander plan sodat Ek nie hoef te sterf nie’? Dit kan Ek tog nie bid nie! Ek het dan juis gekom om te sterf en op te staan. Ek kan nou net een gebed bid: ‘Vader, doen wat nodig is sodat mense kan sien hoe groot en belangrik U is!’” Skielik praat Iemand uit die hemel: “Ek het al baie vir mense gewys hoe groot en belangrik Ek is. Maar Ek gaan dit weer ’n keer doen.” “Hoor die donderweer!” het party gesê. “Nee, man, dit was ’n engel wat met hom gepraat het,” kom dit weer van ander. “Julle is reg. Iemand het gepraat,” sê Jesus. “Maar Hy het eintlik nie met My gepraat nie, maar met julle. “Die tyd het gekom dat die mense gaan hoor wie reg en wie verkeerd is. Party mense dink mos die duiwel swaai die septer in die wêreld. Wel, Ek het vir julle nuus. Sy mag is gebreek. Hy het nie meer ’n sê in hierdie wêreld nie. By My gaan julle ware mag sien. Ek gaan opgelig word van die aarde af. (Hier het Hy sy kruis in gedagte gehad.) Soos ’n magneet gaan Ek dan mense na My toe aantrek, weg van die sonde van die wêreld af.” “Nou is ons deurmekaar!” sê die mense toe. “Sover ons weet, sê die Skrif dat as die Redder eers eenmaal hier is, Hy altyd hier sal bly. Nou sê jy dat die Seun aan ’n kruis gaan hang. Waarvan praat jy? Wie is hierdie ‘Seun’?” Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is. Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie: “Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?” Hulle wou nie glo nie; nou kan hulle nie glo nie. Dit rym met wat Jesaja gesê het: “God het hulle soos blinde mense gemaak. Hulle het niks meer vir God omgegee nie. Ja-nee, hulle kon God nie meer raaksien nie en het nie vir Hom omgegee nie. Die kans dat hulle na God toe sal kom om sy kinders te word is nul.” Jesaja het hierdie dinge oor Christus gesê omdat hy besef het hoe belangrik Christus is. Baie mense, selfs van die Joodse leiers, was saam met Jesaja oortuig van hoe belangrik Jesus is. Stilletjies, op hulle eie, het hulle Jesus aanvaar. Hulle wou dit egter vir niemand sê nie, want hulle was bang. Hulle het koue voete gekry as hulle daaraan gedink het dat die Jode hulle uit hulle byeenkomste sou wegjaag en hulle sou verbied om weer daar te kom as hulle iets goeds van Jesus sou sê. Hulle probleem was dat hulle harder probeer het om mense te beïndruk as vir God. Jesus praat toe hard sodat almal Hom kon hoor: “Hy wat My gelowig aanvaar, aanvaar nie net vir My nie; hy aanvaar ook vir God wat My gestuur het. Hy wat werklik begryp wie Ek is, begryp ook wie My gestuur het. Ek is die Lig wat helder in hierdie donker wêreld ingeskyn het. Wie My gelowig aanvaar, sal nooit weer in die donker hoef rond te strompel nie. Ek het nie gekom om te kyk hoeveel mense Ek hel toe kan stuur nie; inteendeel. “Om die waarheid te sê, as iemand hom nie steur aan wat Ek sê nie, gaan Ek nie my energie mors om te sorg dat hy in die hel beland nie. Ek het beter dinge om te doen. Ek wil eerder my energie gebruik om mense hemel toe te vat, nie hel toe nie. As iemand sy rug vir My draai en my boodskap ignoreer, sal hy wel sy moses teëkom. Hy het mos gehoor wat Ek gesê het! By die finale oordeel sal niemand dit vir hom hoef te herhaal nie. Hy sal my woorde dan onthou, dat wie My nie aanvaar nie, hel toe gaan. Dan sal hy weet wat God oor hom besluit het. “Dit is so omdat Ek nie sommer wat Ek gesê het uit my duim gesuig het nie. My Vader het My presies vertel wat om te sê en wat nie. Toe het Hy My gestuur. Ek weet presies wat Hy wil hê: Ek moet dit vir mense moontlik maak om vir ewig saam met Hom te leef. Dit het die Vader vir My gesê en dit sê Ek vir julle.”
JOHANNES 12:20-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ook ’n klompie Grieke onder dié wat opgetrek het om op die fees te kom aanbid. Dié mense het toe na Filippus, wat vanaf Betsaida in Galilea gekom het, gegaan en vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus ontmoet.” Filippus gaan vertel dit toe vir Andreas. Daarop gaan Andreas en Filippus en vertel dit saam vir Jesus. Jesus reageer toe daarop: “Die uur het aangebreek dat Ek, die Seun van die Mens, verheerlik moet word. Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon. “Nou is Ek hewig ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: ‘Vader, red My uit hierdie uur’? Tog het Ek juis vir hierdie uur gekom. Vader, verheerlik ú Naam!” Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit alreeds verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Die skare wat daar rondgestaan en dit gehoor het, het beweer dat daar ’n groot donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.” Toe reageer Jesus: “Hierdie stem was nie ter wille van My nie, maar ter wille van julle. Nou vind die oordeel oor hierdie wêreld plaas; nou sal die leier van hierdie wêreld na buite toe uitgedryf word. En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Jesus gesê en terselfdertyd aangedui watter soort dood Hy sou sterf. Die skare het reageer: “Ons het volgens die wet gehoor dat die Messias vir altyd gaan bly. Hoe sê u dan nou dat die Seun van die Mens verhoog moet word? Buitendien, wie is hierdie Seun van die Mens?” Jesus het hulle geantwoord: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Rig julle lewe só in terwyl julle nog die lig by julle het, dat die duisternis nie oor julle toeslaan nie. Wie sy lewe in die duisternis inrig, weet mos nie waar hy gaan eindig nie. Terwyl julle nog die lig by julle het, moet julle aanhou glo in die lig sodat julle kinders van die lig kan wees.” Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy vertrek en vir die mense gaan wegkruip. Ten spyte van só baie wondertekens wat Jesus voor die mense se oë gedoen het, het hulle volgehou om nie in Hom te glo nie. Sodoende is die boodskap van die profeet Jesaja vervul: “Here, wie het ons boodskap geglo? En aan wie is die mag van die Here bekendgemaak?” Om dié rede kon die mense nie glo nie, soos Jesaja dit verduidelik: “Hy het hulle oë met blindheid getref en hulle harte hardvogtig gemaak, sodat hulle nie kon sien met hulle oë of kon verstaan met hulle harte om hulle te bekeer en dat Ek hulle gesond maak nie.” Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van Jesus gesien en oor Hom gepraat het. Nietemin het baie uit die geledere van die leiers in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie in die openbaar bely nie sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Hulle het die verering deur mense liewer gehad as die verering deur God. Toe het Jesus uitgeroep: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie na My kyk, sien ook vir Hom wat My gestuur het. “Ek het as lig na die wêreld toe gekom sodat elkeen wat in My glo, nie langer in die duisternis sou bly nie. As iemand dan ook nog na my woorde luister en dit nie gehoorsaam nie, veroordeel Ek hom nie sommer nie, want Ek het nie gekom om die mensdom te veroordeel nie, maar om die mensdom te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het reeds homself geoordeel; die boodskap wat Ek uitdra, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek sal verkondig. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe inhou. Dit wat Ek dus sê, verkondig Ek net soos die Vader dit aan My oorgedra het.”