Toe Jesus verder loop, het Hy 'n man gesien wat blind was vandat hy gebore is. Die dissipels het vir Jesus gevra: “ Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen. God het My na die wêreld gestuur. Hy wil hê ons moet vir die mense wys wat Hy kan doen terwyl dit nog dag is. Die nag kom en in die donker kan niemand werk nie. Terwyl Ek by die mense in die wêreld is, is Ek die lig vir hulle.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.” Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy 'n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?” Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.” Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.” Toe sê die blinde man: “Dit is ek!” Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?” Die man het gesê: “'n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.” Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Die mense het die man wat voorheen blind was, na die Fariseërs toe geneem. Dit was 'n Sabbatdag toe Jesus klei gemaak het en die blinde man laat sien het.
Lees Johannes 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: Johannes 9:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's