JOHANNES 9:1-14
JOHANNES 9:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus verder loop, het Hy 'n man gesien wat blind was vandat hy gebore is. Die dissipels het vir Jesus gevra: “ Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen. God het My na die wêreld gestuur. Hy wil hê ons moet vir die mense wys wat Hy kan doen terwyl dit nog dag is. Die nag kom en in die donker kan niemand werk nie. Terwyl Ek by die mense in die wêreld is, is Ek die lig vir hulle.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.” Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy 'n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?” Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.” Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.” Toe sê die blinde man: “Dit is ek!” Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?” Die man het gesê: “'n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.” Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Die mense het die man wat voorheen blind was, na die Fariseërs toe geneem. Dit was 'n Sabbatdag toe Jesus klei gemaak het en die blinde man laat sien het.
JOHANNES 9:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie? Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek. Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien. En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie. Hulle bring hom na die Fariseërs — die man wat vroeër blind was. En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.
JOHANNES 9:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is. Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?” Party van hulle het gesê: “Dit is hy!” Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.” “Dit is ek!” het hy self gesê. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?” En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe. “Ek weet nie,” was sy antwoord. Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het.
JOHANNES 9:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En in die verbygaan het Jesus 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? ” Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en modder van die speeksel gemaak, die modder aan sy oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam” – wat, as dit vertaal word, ‘gestuurde’ beteken. Hy het toe gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Die bure en die mense wat hom voorheen gesien het toe hy 'n bedelaar was, sê toe: “Is dit tog nie hy wat gesit en bedel het nie?” Ander het gesê: “Dit is hy!” Nog ander het gesê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Maar hy het gesê: “Dit ís ek!” Hulle vra hom toe: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Hy antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê, ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het toe gegaan en my gewas, en ek het begin sien.” Hulle het hom gevra: “Waar is hy nou?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Hulle neem toe die man wat voorheen blind was na die •Fariseërs. Die dag waarop Jesus die modder gemaak en sy oë oopgemaak het, was 'n Sabbat.
JOHANNES 9:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Meester, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hierdie man of sy ouers het nie gesondig nie, maar dat die werke van God in hom openbaar sou word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, terwyl dit dag is: die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Solank as wat ek in die wêreld is, is ek die lig vir die wêreld. Toe hy dit gesê het, het hy op die grond gespoeg en klei gemaak van die speeksel, en die oë van die blinde man met die klei gesalf, En hy sê vir hom: Gaan was jou in die bad van Siloam, (wat beteken: Gestuur). Hy het toe gegaan en hom gewas en gekom siende. Die bure dan en die wat hom tevore gesien het dat hy blind was, het gesê: Is dit nie hy wat gesit en smeek het nie? Sommige het gesê: Dit is hy; ander het gesê: Hy is soos hy, maar hy het gesê: Dit is ek. Daarom sê hulle vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: 'n Man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en my oë gesalf en vir my gesê: Gaan na die bad van Siloam en was jou; en ek het gegaan en my gewas, en ek het gesien. Toe sê hulle vir hom: Waar is hy? Hy het gesê: Ek weet nie. Hulle het hom na die Fariseërs gebring wat voorheen blind was. En dit was die sabbatdag toe Jesus die klei gemaak en sy oë oopgemaak het.
JOHANNES 9:1-14 Die Boodskap (DB)
In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?” “Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” “Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.” “Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord. Die mense vat die man toe reguit na die Fariseërs toe. Die probleem was dat Jesus die man op die sabbat gesond gemaak het.
JOHANNES 9:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien! Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?” Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.” Die man het toe self reageer: “Dit is ék!” Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!” “Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra. “Ek weet nie,” het hy geantwoord. Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem. Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het.