Josua 17

17
Die grond van die Manasse-stam wes van die Jordaan-rivier
1Hulle het lootjies getrek om vir die Manasse-stam grond te gee, want Manasse was Josef se oudste seun. Makir was Manasse se oudste seun, hy was die pa van Gilead. Makir het die land Gilead en die land Basan gekry, want hy was 'n man wat kon oorlog maak. 2Die ander families in die Manasse-stam het ook grond gekry. Dit was die families van die mans in die nageslag van Manasse seun van Josef. Die families was Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida. 3Maar Selofgad seun van Gefer seun van Gilead seun van Makir seun van Manasse het nie seuns gehad nie, hy het net dogters gehad. Hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. 4Hulle het na die priester Eleasar toe gekom en na Josua en die leiers en hulle het gesê: “Die Here het vir Moses gesê hy moet vir ons ook grond gee tussen die ander mense van ons stam.”
Moses het vir hulle grond gegee tussen hulle pa se broers, Moses het gedoen soos die Here gesê het. 5Die Manasse-stam het toe Gilead en Basan oos van die Jordaan-rivier gekry en ook nog tien ander dele, 6want die dogters van Manasse het grond gekry saam met sy seuns. Die ander Manasse-mense het die land Gilead gekry. 7Die grond van die Manasse-stam begin langs die grond van die Aser-stam en gaan tot by die stad Mikmetat, oos van die stad Sigem, en dan suid tot by die mense wat in die stad En-Tappuag woon. 8Die stad Tappuag is op die grens tussen Manasse en Efraim se grond. Die grond rondom die stad het aan die Manasse-stam behoort, maar die stad self het aan die Efraim-stam behoort. 9Die grond van die Manasse-stam gaan tot teen die Kana-vallei. Die grens is noord van die vallei tot teen die see. Suid van die vallei is daar stede van Efraim, hierdie stede was tussen die stede wat aan Manasse behoort. 10Efraim se grond was suid van die vallei en Manasse se grond was noord. Manasse se grond gaan tot by die see, en noord van sy grond is die grond van die Aser-stam, en oos is die grond van die Issaskar-stam. 11Maar op die grond wat aan Issaskar en Aser behoort het, was daar stede wat aan Manasse behoort het. Die stede was Bet-San, Jibleam, Dor, En-Dor, Taänak en Megiddo, en die dorpies naby die stede. Die dorpies is op drie heuwels. 12Die Manasse-stam kon nie die mense in daardie stede oorwin en wegjaag en die stede vir hulleself vat nie. Die Kanaäniete het besluit om daar te bly en in die stede te woon. 13Toe die Israeliete baie geword het, het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, maar hulle kon nie die Kanaäniete oorwin en wegjaag en die stede vir hulleself vat nie.
Die Josef-stamme kry meer grond
14Die Josef-stamme het vir Josua gevra: “Hoekom het jy vir ons net een deel van die land gegee om aan ons te behoort? Ons is baie mense, want die Here het ons baie geseën.”
15Josua het vir hulle gesê: “As julle so baie mense is en as die Efraim-berge nie genoeg is vir julle nie, dan moet julle die bosse gaan uitkap en vir julle grond skoonmaak in die land van die Feresiete en Refaïete.”
16Die Josef-stamme het toe gesê: “Die berge is nie genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die vallei woon, het oorlogkarre van yster, die Kanaäniete wat woon in die stad Bet-San en die dorpies daar naby, en in die Jisreël-vallei.”
17Josua het vir die nageslag van Josef, vir die stamme Efraim en Manasse, gesê: “Julle is baie mense en julle stam is baie sterk, julle moet meer as een deel hê. 18Maar julle moet ook die berge kry wat vol bosse is. Julle moet die bosse uitkap en julle moet die grond skoonmaak sodat julle die hele bergland kan kry. Die Kanaäniete het oorlogkarre en hulle leër is sterk, maar julle sal hulle oorwin en wegjaag en julle sal hulle stede vat.”

Tans Gekies:

Josua 17: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan