Daarna moet hy die bul daar voor die Here slag, en die priesters van die nageslag van Aäron moet die bloed van die bul nader bring en hulle moet dit spat teen die altaar, die altaar wat voor die tent is waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle moet dit oral rondom die altaar spat. Die persoon wat die offer gee, moet die bul slag en hy moet die vleis in stukke sny. Die priesters van die nageslag van Aäron moet vuur op die altaar sit en hulle moet hout op die vuur pak. Hulle moet die stukke vleis op die hout sit wat op die vuur op die altaar is, hulle moet ook die kop en die niervet daarop sit. Die persoon wat die offer gee, moet die pote en die binnegoed was, en die priester moet alles op die altaar verbrand. Dit is 'n brand-offer, 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here. “Wanneer iemand 'n skaap of 'n bok gee om 'n brand-offer te wees, dan moet hy 'n gesonde ram gee. Hy moet die ram daar voor die Here slag, langs die noordekant van die altaar, en die priesters van die nageslag van Aäron moet die bloed teen die altaar spat, oral rondom die altaar. Die persoon moet die kop afsny en hy moet die niervet afsny. Hy moet die vleis in stukke sny, en die priester moet alles langs mekaar op die hout sit wat op die vuur op die altaar is. Die persoon moet die binnegoed en die pote was, en die priester moet dit alles offer en verbrand op die altaar. Dit is 'n brand-offer, 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here. “Wanneer iemand vir die Here 'n voël wil gee om 'n brand-offer te wees, dan moet hy vir die Here 'n tortelduif of 'n makduif gee. Die priester moet die duif na die altaar bring. Hy moet die duif se nek omdraai en hy moet dit op die altaar verbrand. Hy moet die duif se bloed uitdruk teen die kant van die altaar. Daarna moet hy die krop en die vere neem en hy moet dit weggooi, oos van die altaar, op die ashoop. Hy moet die duif se vlerke amper afskeur, maar hy moenie dit heeltemal afskeur nie. Dan moet hy dit heeltemal op die altaar verbrand. Dit is 'n brand-offer, 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here.”
Lees Levitikus 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Levitikus 1:5-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's