Levitikus 19

19
Die Israeliete moet hulleself aan die Here wy
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete sê: Julle moet julleself aan My wy, want Ek, julle God die Here, is heilig.
3“Elke persoon moet sy ouers respekteer en julle moet my Sabbatdae vier. Ek is julle God die Here. 4Julle moenie afgode begin dien nie en julle moenie vir julle beelde maak van gode nie. Ek is julle God die Here.
5“Wanneer julle vir die Here 'n ete-offer slag, dan moet julle dit so doen dat die Here julle aanvaar. 6Julle mag die vleis eet op die dag wanneer julle die dier slag en julle mag dit ook die volgende dag eet. Maar as daar vleis oorbly tot die derde dag, dan moet julle dit verbrand. 7As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here dit nie aanvaar nie, die vleis is onrein. 8Ek sal die persoon straf wat dit gedoen het, hy sal skuldig wees, want hy het iets ontwy wat aan die Here gewy is. Julle moet daardie persoon afsny van sy volk.
9“Wanneer julle koring of gars afsny, dan moet julle nie alles tot by die kant van die land afsny nie, en julle moenie die koring-are of gars-are optel wat val nie. 10En wanneer jy druiwe pluk, dan mag jy nie 'n tweede maal deur jou wingerd gaan om nog druiwe te pluk nie. Jy mag ook nie die druiwetrosse optel wat val nie. Jy moet hulle los vir arm mense en vir vreemdelinge.
11“Julle mag nie mekaar se goed steel of vir mekaar lieg of mekaar bedrieg nie.
12“Jy mag nie vals wees wanneer jy iets belowe en sê die Here is die getuie nie. As jy dit doen, dan ontwy jy die Naam van jou God. Ek is die Here.
13“Jy mag nie jou naaste verdruk en sy goed vir jouself vat nie. Jy moet elke dag die dagloner se beloning vir hom gee, jy moenie wag tot die volgende dag nie.
14“Jy mag nie 'n dowe mens vervloek nie en jy mag nie in 'n blinde mens se pad iets sit waaroor hy kan val nie. Jy moet jou God respekteer en dien.
15“Jy moenie verkeerd oordeel nie. Wanneer iemand skuldig is, dan mag jy nie sê hy is onskuldig nie, dit maak nie saak of hy 'n arm mens of 'n ryk mens is nie. Jy moet regverdig wees wanneer jy oordeel.
16“Jy mag nie skinder van mense nie. Jy mag nie iets doen wat gevaarlik is vir ander mense se lewe nie. Ek is die Here.
17“Jy mag nie 'n ander mens haat nie, jy moenie nét aanhou sê iemand is skuldig nie, jy moet ook vir hom sê wát hy verkeerd doen.
18“Jy moenie dieselfde slegte ding aan 'n ander Israeliet wil doen wat hy aan jou gedoen het nie, jy moenie vir hom kwaad bly nie. Jy moet vir jou naaste so lief wees soos jy lief is vir jouself. Ek is die Here.
19“Julle moet aanhou om te doen wat Ek vir julle sê. Julle mag nie verskillende soorte diere laat paar en kleintjies kry nie. Julle mag nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie, julle mag nie klere dra wat julle gemaak het van verskillende soorte materiaal nie.
20“'n Man het miskien seks met 'n vrou wat 'n slavin is, en haar eienaar het belowe dat 'n ander man haar mag kry. As die ander man haar nog nie losgekoop het nie, en haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie, dan moet die man wat seks gehad het met haar, boete betaal aan die eienaar. Hulle mag nie die man en die vrou doodmaak nie, want haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie. 21Die man moet 'n skuld-offer vir die Here bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die skuld-offer moet 'n skaap-ram wees. 22Die priester moet die skuld-offer offer om versoening te doen vir die sonde wat die man gedoen het. Dan sal die Here sy sonde vergewe.
23“Wanneer julle in die land kom en julle plant vrugtebome, dan mag julle drie jaar lank nie die vrugte eet nie. 24In die vierde jaar moet julle al die vrugte wy om vir die Here dankie te sê. 25Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. Dan sal daar baie vrugte wees. Ek is julle God die Here.
26“Julle mag nie vleis eet wat vol bloed is nie. Julle mag nie toor nie. Julle mag nie sê julle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie.
27“Wanneer julle wil rou, dan mag julle nie die hare langs die kante van julle kop en julle baard afskeer nie. 28Julle mag ook nie julle liggame sny of prente op julle vel teken nie. Ek is die Here.
29“Jy moenie jou dogter 'n prostituut laat word nie, want dan sal julle haar ontwy. Dan sal ander mense in die land ook prostitute word, en die land sal vol word van mense wat hierdie slegte ding doen.
30“Julle moet my Sabbatdae vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here.
31“Julle mag nie vir geeste van dooie mense of vir waarsêers vra wat julle wil weet nie. As julle dit doen, dan sal julle onrein word. Ek is julle God die Here.
32“Jy moet opstaan wanneer 'n oumens na jou toe kom, jy moet hom respekteer en jy moet vir God respekteer en dien. Ek is die Here.
33“Wanneer 'n vreemdeling by julle in die land woon, dan mag julle hom nie laat swaarkry nie. 34Die vreemdeling moet vir julle wees soos 'n Israeliet, jy moet lief wees vir hom soos jy lief is vir jouself, want julle was ook vreemdelinge in die land Egipte. Ek is julle God die Here.
35“Julle mag nie mense bedrieg wanneer julle meet en weeg nie. 36Julle moet weegskale en gewigte gebruik wat reg weeg, en die efa of hin wat julle gebruik, moet reg wees. Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het.
37“Julle moet alles doen wat Ek sê en besluit. Ek is die Here.”

Tans Gekies:

Levitikus 19: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan