Levitikus 4:1-13

Levitikus 4:1-13 ABA

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand sonde doen teen een van die gebooie van die Here, wanneer hy iets doen wat hy nie mag doen nie, maar hy weet dit nie, dan moet julle só doen: “Wanneer die gesalfde priester sonde gedoen het en hy het die volk skuldig laat word, dan moet hy 'n gesonde bul vir die Here gee. Dit is 'n sonde-offer. Hy moet die bul bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet sy hand op die kop van die bul sit en hy moet die bul daar voor die Here slag. Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul neem en hy moet dit bring na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Dan moet hy sy vinger in die bloed steek en hy moet die bloed sewe maal voor die gordyn van die gewyde plek spat. Daarna moet hy 'n bietjie van die bloed smeer aan die horings van die wierook-altaar, daar voor die Here in die tent, en dan moet hy al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar voor die tent. Dan moet hy al die vet van die sonde-offerbul uithaal. Dit is die netvet, die vet aan die binnegoed, die twee niere saam met die niervet aan die kruis, en die punt van die lewer wat hy saam met die niere uithaal. Hy moet dit doen soos hy gedoen het met die dier vir die ete-offer, en hy moet dit op die brandoffer-altaar verbrand. Maar hy moet die bul se vel, en ook al sy vleis, sy kop en pote, sy binnegoed en sy pensmis, die hele bul, buite die kamp neem na 'n rein plek, die ashoop. Daar moet hy dit verbrand op 'n houtvuur. “Miskien het die hele volk Israel sonde gedoen, maar hulle weet dit nie, hulle het iets gedoen teen een van die gebooie van die Here, iets wat 'n mens nie mag doen nie, en hulle het skuldig geword.