Lukas 1:57-80
Lukas 1:57-80 ABA
Toe Elisabet se baba later gebore is, was dit 'n seuntjie. Haar bure en familie het gehoor dat die Here goed was vir haar en hulle was baie bly saam met haar. Op die agste dag het die mense gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom Sagaria noem. Dit was ook sy pa se naam. Maar sy ma het gesê: “Nee, sy naam moet Johannes wees.” Die mense het vir haar gesê: “Daar is niemand in jou familie wat die naam Johannes het nie.” Hulle het met gebare vir Sagaria gevra wat hy die seuntjie wil noem. Sagaria het gesê hulle moet vir hom 'n skryfbordjie gee en hy het daarop geskryf: “Sy naam is Johannes.” Almal was verbaas. Sagaria kon dadelik weer praat, en hy het God geprys. Al die mense wat daar naby gewoon het, was verbaas en bang. Al die mense het gepraat oor alles wat gebeur het, ook die mense wat in die berge in die provinsie Judea gewoon het. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor gedink en gesê: “Ons wonder wat sal hierdie seuntjie eendag doen.” Almal kon sien die Here was by Johannes. Die Heilige Gees het gekom in Sagaria, Johannes se pa. Sagaria het gepraat soos die profete en hy het gesê: Ons prys die Here, die God van Israel, want Hy het na sy volk toe gekom en Hy het hulle vrygemaak. Hy het vir ons 'n sterk Redder gestuur, 'n Man van die nageslag van koning Dawid, sy dienaar. Die Here het belowe Hy sal dit doen. Sy gewyde profete het dit lank gelede gesê. Die Here red ons van ons vyande en van die mense wat vir ons haat. Hy het nou gedoen wat Hy vir ons voorvaders belowe het toe Hy gesê het Hy sal goed wees vir hulle. Hy het onthou dat Hy 'n gewyde verbond gemaak het met hulle. Die Here het vir ons voorvader Abraham belowe dat Hy ons sal red van ons vyande. Hy het gesê ons sal nie bang wees nie, ons sal Hom aanbid, ons sal net vir Hom dien en altyd lewe soos Hy wil hê. En jy, kindjie, jy sal 'n profeet wees van die Hoogste God. Jy sal die pad gereedmaak vir die Here, en dan sal Hy kom. Jy sal vir sy mense vertel dat God hulle sonde vergewe en dat Hy hulle so sal red. God sal dit alles doen omdat Hy baie goed wil wees vir die mense wat aan Hom behoort. Die Here sal na ons toe kom. Hy sal die son wees wat uit die hemel kom en op ons skyn. Sy lig sal skyn oor almal wat in die donker is, oor almal wat in die diep donker is. Die Here sal ons lei, en daar sal vrede wees. Johannes het groot geword, sy liggaam en sy gees het sterk geword. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy begin preek het vir die mense van Israel.





