Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

LUKAS 1:57-80 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

LUKAS 1:57-80 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly. Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys. Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Dit was duidelik dat die Here by hom was. Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. Met 'n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe. “En jy, kindjie, 'n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

LUKAS 1:57-80 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar. En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly. En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader. Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof. En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom. EN Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg — soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af — redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat, om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe. En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig. En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.

LUKAS 1:57-80 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly. Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa. Maar Elisabet het gesê: “Nee! Sy naam is Johannes!” “Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,” het hulle gesê. Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa. Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!” Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys. Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal eendag van hierdie kindjie word?” Want die hand van die Here was duidelik op hom. Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Prys die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk opgesoek en hulle gered. Hy het vir ons ’n magtige Redder gestuur uit die koninklike geslag van sy dienaar Dawid, soos Hy lank gelede deur sy heilige profete beloof het. Nou sal ons van ons vyande gered word en van almal wat ons haat. Hy was genadig teenoor ons voorvaders en Hy het sy heilige verbond met hulle onthou, die eed wat Hy teenoor Abraham ons voorvader gesweer het dat Hy sou sorg dat ons, gered van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien in toewyding en geregtigheid vir altyd. En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal die pad van die Here voorberei. Jy sal sy volk vertel hoe om verlos te word: deurdat hulle sonde vergewe word. Vanweë God se tere ontferming is die lig van die hemel op die punt om oor ons te skyn, om lig te bring aan hulle wat in donkerheid en die skaduwee van die dood lewe, en om ons te lei op die pad van vrede.” Johannes het groot en sterk geword in die Gees. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy sy bediening onder Israel begin het.

LUKAS 1:57-80 DB (Die Boodskap)

Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad. Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê. Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem. Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.” “Hoekom? Daar is dan niemand in jou familie met die naam Johannes nie,” het hulle haar verbaas gevra. “Kom ons vind uit wat Sagaria dink,” het hulle toe gesê. Hulle het met handgebare vir hom gevra hoe hy sy seun genoem wou hê. Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor. Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys. Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid. Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was. Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak: “Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur. Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen. Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid. Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham: God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe. “En jy, my seuntjie, die mense sal jou noem: ‘Boodskapper van die Allerhoogste.’ Jy sal voor die Here uitstap en sy pad gelyk maak. Jy sal vir sy volk vertel hoe hulle by God kan uitkom. Jy sal hulle leer hoe hulle sondes vergewe kan word. God is so ongelooflik goed vir ons. Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld begin skyn. Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef, ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is. God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.” Johannes het vinnig grootgeword. Die krag van die Gees was in sy lewe te sien. Hy het eenkant in die woestyn gebly tot op die dag dat hy onder die Israeliete begin preek het.

LUKAS 1:57-80 ABA (Bybel vir almal)

Toe Elisabet se baba later gebore is, was dit 'n seuntjie. Haar bure en familie het gehoor dat die Here goed was vir haar en hulle was baie bly saam met haar. Op die agste dag het die mense gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom Sagaria noem. Dit was ook sy pa se naam. Maar sy ma het gesê: “Nee, sy naam moet Johannes wees.” Die mense het vir haar gesê: “Daar is niemand in jou familie wat die naam Johannes het nie.” Hulle het met gebare vir Sagaria gevra wat hy die seuntjie wil noem. Sagaria het gesê hulle moet vir hom 'n skryfbordjie gee en hy het daarop geskryf: “Sy naam is Johannes.” Almal was verbaas. Sagaria kon dadelik weer praat, en hy het God geprys. Al die mense wat daar naby gewoon het, was verbaas en bang. Al die mense het gepraat oor alles wat gebeur het, ook die mense wat in die berge in die provinsie Judea gewoon het. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor gedink en gesê: “Ons wonder wat sal hierdie seuntjie eendag doen.” Almal kon sien die Here was by Johannes. Die Heilige Gees het gekom in Sagaria, Johannes se pa. Sagaria het gepraat soos die profete en hy het gesê: Ons prys die Here, die God van Israel, want Hy het na sy volk toe gekom en Hy het hulle vrygemaak. Hy het vir ons 'n sterk Redder gestuur, 'n Man van die nageslag van koning Dawid, sy dienaar. Die Here het belowe Hy sal dit doen. Sy gewyde profete het dit lank gelede gesê. Die Here red ons van ons vyande en van die mense wat vir ons haat. Hy het nou gedoen wat Hy vir ons voorvaders belowe het toe Hy gesê het Hy sal goed wees vir hulle. Hy het onthou dat Hy 'n gewyde verbond gemaak het met hulle. Die Here het vir ons voorvader Abraham belowe dat Hy ons sal red van ons vyande. Hy het gesê ons sal nie bang wees nie, ons sal Hom aanbid, ons sal net vir Hom dien en altyd lewe soos Hy wil hê. En jy, kindjie, jy sal 'n profeet wees van die Hoogste God. Jy sal die pad gereedmaak vir die Here, en dan sal Hy kom. Jy sal vir sy mense vertel dat God hulle sonde vergewe en dat Hy hulle so sal red. God sal dit alles doen omdat Hy baie goed wil wees vir die mense wat aan Hom behoort. Die Here sal na ons toe kom. Hy sal die son wees wat uit die hemel kom en op ons skyn. Sy lig sal skyn oor almal wat in die donker is, oor almal wat in die diep donker is. Die Here sal ons lei, en daar sal vrede wees. Johannes het groot geword, sy liggaam en sy gees het sterk geword. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy begin preek het vir die mense van Israel.

LUKAS 1:57-80 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly. Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys. Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom. Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het , sodat ons, gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, en al ons dae voor Hom in heiligheid en •geregtigheid kan leef. En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.

LUKAS 1:57-80 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Nou het Elisabeth se volle tyd gekom dat sy verlos sou word; en sy het 'n seun gebaar. En haar bure en haar niggies het gehoor hoe die Here groot genade aan haar bewys het; en hulle was saam met haar bly. En dit het gebeur dat hulle op die agtste dag gekom het om die seuntjie te besny; en hulle het hom Sagaria genoem, na die naam van sy vader. En sy moeder antwoord en sê: Nie so nie; maar hy sal Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand van jou familie wat hierdie naam genoem word nie. En hulle het vir sy vader tekens gemaak hoe hy hom wou laat roep. En hy het 'n skryftafel gevra en geskryf en gesê: Sy naam is Johannes. En hulle het almal verwonder. En dadelik is sy mond geopen, en sy tong het losgegaan, en hy het gespreek en God geprys. En vrees het gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en al hierdie woorde is opgehef in die hele gebergte van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit in hulle harte opgelê en gesê: Watter kind sal dit wees? En die hand van die Here was met hom. En sy vader Sagaria is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, God van Israel; want Hy het sy volk besoek en verlos, En Hy het vir ons 'n horing van verlossing opgerig in die huis van sy kneg Dawid; Soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete, wat bestaan het vandat die wêreld begin het: Sodat ons gered kan word van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat; Om die barmhartigheid te vervul wat aan ons vaders beloof is, en om aan sy heilige verbond te dink; Die eed wat hy aan ons vader Abraham gesweer het, Dat Hy aan ons sou gee, dat ons, wat verlos is uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, In heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe. En jy, kindjie, sal die profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy moet voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë voor te berei; om kennis van verlossing aan sy volk te gee deur die vergifnis van hulle sondes, Deur die tere barmhartigheid van onse God; waardeur die dagspruit uit die hoogte ons besoek het, om lig te gee aan die wat in duisternis en in doodskaduwee sit, om ons voete te lei op die pad van vrede. En die kind het gegroei en sterk geword van gees en was in die woestyn tot die dag van sy vertoning aan Israel.